Latest Entries »

As daar een uitstaande kenmerk is van verligte denke, dan is dit om te LUISTER. Die meeste mense is gekondisioneer om aanhoudend te praat, maar min mense LUISTER werklik.
Maak dit vandag jou doelwit om stil te wees. Nie net met jou mond nie, maar ook in jou hart. Luister bietjie doelbewus na geluide om jou, kyk om jou rond en neem werklik in wat jy sien. Identifiseer verskillende gevoelens in jou binneste en release enige vorm van negatiwiteit. Beleef elke oomblik deur jou sintuie en luister na wat mense sę sonder om vooraf die antwoord gereed te hę.
Waar jy jou ook al bevind, dit is die heel beste plek waar jy nou kan wees. Wees stil en wees dankbaar. Wees net wie jy werklik is!
-Salmon Vermaak-

In ons gesin was ons 3 kinders.  Ek was die jongste met twee ouer broers, Lappies en Gideon.  Maar ons het ook ‘n stiefsuster, Annatjie, gehad wat heelwat ouer was as ek.  Toe ek gebore is het Annatjie al haar eerste baba, Santa, gehad wie 9 maande ouer as ek is.  Twee jaar later is daar vir Santa ‘n boetie gebore, Kosie soos ons hom geken het as seuntjie.  Soos wat hy groter geword het, het dié naam verander na Kobus.

Annatjie en Ben, haar man, het op Paulpietersburg in Natal gewoon.  In my hoërskooljare het ons in Vryheid gewoon, wat net ‘n hanetreetjie wes was van Paul Pietersburg.  Ons het destyds baie oor en weer gekuier, en ek het baie naweke en vakansies by hulle deurgebring.

Na skool het ons paadjies egter uitmekaar geloop.

Ons het getrek Pretoria toe, en ook Annatjie hulle het getrek.  Santa is getroud sonder dat ons daar was, en ek is ook getroud sonder dat hulle daar was.  Toe ons op Nelspruit gewoon het,  het Annatjie en Ben op Middelburg gewoon, waar Ben later oorlede is.  In daardie tyd het ons heel dikwels by hulle gekuier.

Nadat ons terug is Pretoria toe, en later Oos Kaap toe getrek het, het ons egter kontak verloor.  Annatjie is weer getroud en het op Koppies in die Vrystaat gaan woon waar sy ‘n paar jaar later oorlede is.

In al die tyd het ek en Santa en Kobus nie kontak gemaak of behou nie.  As ek nou moet terug dink weet ek nie wat die verwydering veroorsaak het nie.  En ja, dit het my van tyd tot tyd gepla, maar ek het netnie die nodige moed of krag gehad om eerste die foon op te tel nie.  En so het die jare verby gegaan.  Ek was egter bewus daarvan dat hulle tog van tyd tot tyd kontak met Gideon en Lappies gehad het.  En dan het die gedagte by my opgekom, hoekom moet ek die eerste skuif maak.  Ai, ai, ai.

En toe, so paar weke gelede, bel Gideon my met die nuus dat Santa se man long kanker het.  Hulle skoondogter is verlede Desember op 32 dood aan pankreas kanker en het 3 kinders, die jongste slegs 7 maande, agter gelos.  Die 3 kinders bly van toe af reeds by Ouma en Oupa.

Ek het dadelik vir haar gebel.  Sy was stomgeslaan om van my te hoor, maar ek is so bly dat ek dit wel gedoen het.  Dis vir haar nou maar baie moeilik, met veral die ou kleintjie wat nog so baie aandag verg, en haar man wat so siek is.

As ek so luister wanneer Fred van sy grootword jare vertel, dan klink dit so lekker soos hulle familie altyd saam gekuier het.  Broers, susters, ooms en tantes, niggies en neefs.  Maar dan moet ek darem byvoeg dat hulle almal omtrent bymekaar gebly het en dit dus makliker was om so te kuier.  As kind was my familie aan my ma se kant in die Oos Kaap en aan my pa se kant in Natal.  Baie ver weg van Smithfield af.

Hmmm…. mens kan seker boeke skryf oor familie.  Vir nou is dit goed dat ek en Santa weer kontak gemaak het.

Vanoggend moes ons net na 8 uur lughawe toe ry om vir Michael daar te gaan aflaai.  Dit was natuurlik spits tyd op ons beroemde paaie.  Om daarheen te ry was nie te besig nie, maar met die terugkom slag was ons vasgevang in die ry-stop situasie van mense wat by hul werk of bestemmings wou uitkom.  Ons was maar heel rustig, en het al die mense en motors bekyk.  So skuins voor ons in die linkerbaan was daar ‘n groot trok wat blykbaar groente en vrugte vervoer het.  Die trok was natuurlik heeltemal toe.  Skielik verskyn daar twee jong mannetjies, klim op agter teen die trok, ruk die deur oop en loer binne.  Die verkeer begin weer beweeg.  Die voorste een het op dié stadium reeds binne in die trok in verdwyn, en ‘n derde persoon het sommer so in die beweging ook opgespring.  Die 1ste een kom uit met ‘n boks in die hande.  Hy spring met boks en al, in die beweging, op die grond dat die boks uit sy hande val, maar hy gryp dit so vinnig en hardloop.  Die ander twee is toe reeds by en voor ek my oë knip is hulle weg, tussen die motors deur.  Die trok se deur swaai steeds heen en weer, want daar was nie vir hulle tyd om dit toe te maak nie – ek glo ook nie dit was hul plan nie.  So paar tree verder het ons by die trok verby gegaan, en probeer om sy aandag te trek, maar ek vermoed hy het op daardie stadium reeds onraad vermoed, en probeer stop.

Als het so vinnig gebeur.  Dis asof daar ‘n visioen by jou verby sweef en jy behoorlik gemesmeraais is.  Ongelooflik.

“Jy moet nou regkom”; “Jy moet lekker wees”; “Toemaar, more voel jy weer beter”; “Jy moet miskien meer me-time met die Here hê”; “het jy al ‘n spritual healer probeer”; “dis ‘n nuwe jaar, jy moet rekom” ens……

http://images.google.co.za/imgres?imgurl=http://socialad.files.wordpress.com/2008/08/social-anxiety.jpg&imgrefurl=http://socialad.wordpress.com/&usg=__AGKdvnxypLoSjxxcQPUNV382d7E=&h=400&w=400&sz=9&hl=en&start=53&um=1&tbnid=Jf8-6j3KhDGj7M:&tbnh=124&tbnw=124&prev=/images%3Fq%3Danxiety%2Bdisorder%26ndsp%3D18%26hl%3Den%26rlz%3D1T4WZPA_enZA212ZA222%26sa%3DN%26start%3D36%26um%3D1

http://socialad.files.wordpress.com/2008/08/social-anxiety.jpg

Hierdie is maar ‘n paar sêgoed waarmee ek moet deel.  Dis baie duidelik dat mense nie ‘n idee het wat depressie werklik is nie.  Om vir ‘n dag of ‘n maand depressed te wees, miskien ‘n antidepressant vir ‘n maand of ses te drink, en dan weer heeltemal ok te wees, is nié depressie nie!  En as daar nog ‘n angs steurnis by is, is dit nie sommer net vir “regkom” nie.  Dit vat tyd, en werk, en baie gewroeg en baie trane.   The Pines Lifeskills Clinic sê :  “In die geval van angssteurnisse, waarvan daar baie is, bestaan die wanopvatting dat die persoon homself net moet regruk. In werklikheid is die persoon glad nie in staat om dit te doen nie en ervaar dan ‘n intense gevoel van hulpeloosheid in die poging om in beheer te bly.”

En dan word die onderwerp ook heeltemal vermy in ‘n geselskap.  Almal sal praat oor Fred se hart probleem, of dié een se rugprobleem of daai een se verkoue, maar depressie is ‘n groot no-no.  Dis nie ‘n aanvaarbare siekte vir almal nie.  En dis wat dit is: ‘n siekte soos enige ander siekte.  ‘n Baie alleen-siekte.  Daar is ‘n chemiese wanbalans in die brein wat met medikasie reggestel moet word.  Maar om die regte medikasie te kry neem tyd aangesien antidepressante eers na ‘n goeie 6 weke wys of dit help of nie.  Met ‘n angs steurnis op die koop toe, bemoeilik dit die saak.  My siekte is nou gediagnoseer as angs steurnis wat dan depressie veroorsaak, en nie anders om soos in die verlede gediagnoseer is nie. “I always thought I was just a worrier. I’d feel keyed up and unable to relax. At times it would come and go, and at times it would be constant. It could go on for days. I’d worry about what I was going to fix for a dinner party, or what would be a great present for somebody. I just couldn’t let something go.” Dis so ‘n waar beskrywing van hoe ek voel.

Ek is besig om ‘n boek te lees van Sally Brampton: Shoot the damn dog – a memoir of depression.  Ek wil partykeer sommer die boek in ‘n vriendin se hand druk en sê: lees dit.  Miskien sal jy dit dan verstaan.  Maar in plaas van dit te doen, keer ek terug na my eie alleenheid.  Hier binne waar niemand my pyn en hartseer kan sien nie.  Hier binne waar ek alleen huil oor mense wat my, onbewustelik, seermaak.

In dié boek vertel die skryfster hoe sy in en uit ‘n psigiatriese saal by ‘n hospitaal was.  Ek daarenteen, het die voorreg om in ‘n kliniek opgeneem te word waar die pasiënte soos konings en koninginne behandel word.  ‘n Veilig hawe teen ‘n wêreld wat jou nie ‘n plekkie in die son gun nie.  Ek dank die Here elke dag vir my man en kinders, wat by my staan en probeer verstaan waardeur ek gaan.  Sally gee in haar boek die volgende statistiek: “Severe depression affects more than 120 million people worldwide and more than 5 million in the UK.  By 2020, according to the World Health Organisation, it will be one of the world’s most debilitating conditions, second only to heart disease.  Is that distress?  Or is it a major illness?”

Hierdie boek het so ‘n indruk op my gemaak dat ek aanhalings daaruit wil maak omdat dit so goed gestel is:  “While scientists debate whether depression is an illness of body or mind, or both, one thing is urgently true for the depressive.  The sadness that comes from sickness needs addressing.  One of the most corrosive aspects of depression is despair.  I know it well, and it is catastrophic.  It leads to hopelessness, helplessness and a terrible, frightening sense of loneliness.  It feels impenetrable and unendurable.  You know that you shouldn’t feel that way, but you do.  It is real.”

Wanneer jy deur dié nagmerrie leef, wil jy net so graag hê dat iemand jou hand moet vashou.  Jy verwag nie dat iemand die nagmerrie moet wegneem nie, maar jy het hulp en aandag nodig.  Praat my my daaroor…. ek het nie ‘n aansteeklike siekte nie.   Dit is wat so goed is van die kliniek.  Ons verstaan mekaar en maak grappies oor ons eie ervarings.  Ons lag saam en huil ook saam omdat ons mekaar so goed verstaan.  En as iemand die dag nie lekker voel nie, tel ‘n drukkie of ‘n tik op die skouer soveel punte.  Partykeer wil jy net praat oor hoe jy voel, en as daar niemand is wat wil luister nie, keer jy net terug na jou binnekamer waar jy alleen is.  Dan kom die vraag: hoekom? Ek verwag nie dat jy my terapeut moet wees nie, en ek verwag nie dat jy alles moet verstaan nie.  Jy hoef eintlik niks te sê nie; wees net daar vir my.

“There is a word that’s forbidden in therapy.

FINE.

‘How are you today?’

‘I’m fine.’

In truth, I may be happy or sad, or anxious or irritable.  I may be bewildered or lonely, perplexed or depressed.  I may be elated or despondent, tired or confursed.

But to you, I am just fine.

Fine, in therapy, stands for:

F….d up
Insecure
Neurotic
Emotional”

Om te gaan hulp soek is nie altyd so maklik nie.  Ek wil nie elke keer al die ou goed weer opdiep nie.  Ek wil nie oor en oor dieselfde goed deurgaan en beleef nie.  Maar soos jy jou GP uitsoek tot jy by die regte een kom, so soek jy ook jou Psigiater en Sielkundige uit.  As jy nie aanklank vind nie, help dit nie dat jy jou geld mors nie.  En as die medikasie wat vir jou voorgeskryf  word nie werk nie, en jou dokter luister nie na wat jy sê nie, moet jy weet dat dit tyd geword het om aan te beweeg.  Gaan soek iemand om mee te praat.  Vra vir almal of hulle iemand kan aanbeveel.  Want “word of mouth” is die beste verwysing wat daar is.  En dis wat ek moes doen.  Ek is vir jare deur medikasie en terapie wat nie gewerk het nie, en uiteindelik moes ek die besluit neem of ek beter hulp gaan soek.  Maar om so siek te voel en sulke groot besluite te moes neem, is nie ‘n maklike ding nie.  As ek nie Fred se ondersteuning en my kinders se input gehad het nie, sou ek seker niks verander het nie.  Dit is nogal opvallend hoe baie mense nie die verskil ken tussen ‘n Psigiater en Sielkundige nie.  Dit verduidelik seker hoekom mense nie die geestes siektes verstaan nie.  My raad is dus:  as jy nie van jou terapeut hou nie, of nie aanklank vind nie…. gaan soek iemand anders.

Om deur terapie te werk, maak baie dinge vir jou duidelik.  Dan ondersoek jy jou eie menswees, jou gene, familie en kinderdae.  Nie dat mens dit geniet nie – dis nie lekker om jou verlede uit te rafel en foute en tekortkominge te erken nie.  Of die seer wat dit veroorsaak het nie.  In Engels is daar ‘n saying wat sê: “it’s never too late to have a happy childhood”.  Ek sou dit wil verander na:  Dis nooit te laat om te verhoed dat ongelukkige kinderdae ons ongelukkige grootmense laat word nie.  Goeie terapie laat ons egter nie vasval in gister en die verlede nie.  Dit help ons verstaan hoekom ons sekere dinge doen en hoe om dit te oorkom.  Maar na, en tydens, terapie is die groot werk slegs joune….. jy moet dit wat jy leer toepas in jou lewe, hoe moeilik dit ookal mag wees.  Terapie gee vir ons die know how, en die toepas daarvan is nie so maklik nie.  Jy moet die heeltyd bedag wees op jou doen en late, jou gedagtes en dit wat om jou aangaan.  Oor en oor moet jy met jouself praat.  En partykeer is dit net makliker om sommer net te wees.

En tog mislei jy jouself ook partykeer.  Jy sê jy voel beter, en glo dit vir die oomblik, om net later te besef dat dit ‘n valse front is wat jy voorhou.  Die hoop dat die medikasie jou gaan help is so groot, dat jy glo dit help, en dan skielik kom jy agter dat jy nog steeds mense vermy, en nie ‘n geselskap kan voer nie.  Dat jy baie vatbaar is vir ander se opinies en die kleinste dingetjie aan jou lyf kom sit.  Dan is dit “back to the drawing board”.  Dit moet erken word en mee gewerk word.

Kersfees 2009 het gekom en gegaan.

Die tweede ou-Kersaand in 10 jaar dat ek nie by Rohan-hulle of Marli-hulle is nie.  Mark, Melanie en die kinders was hierdie jaar by ons, maar is alreeds weer terug PE toe.  Rohan-hulle het ‘n groot partytjie aangehad by mense wat ons nie ken nie.  Ons was ook genooi maar het nie gevoel om met ons klomp mense by vreemdes te gaan afpak nie.  Ek en Fred het nie een in elk geval goed gevoel nie, en was nie lus vir so ‘n klomp mense nie.

Ons het Kersdag almal saam gevier hier by ons.  Dit was lekker om Rohan en Eldre en Linda darem hier te hê, saam met Mark hulle.  Ek mis Marli en Walter baie op sulke familie byeenkomste.  En wonder wanneer ons ooit weer ‘n Kersfees en nuwe jaar saam sal vier.  Maar niks is onmoontlik nie, en vier ons dalk almal een jaar ‘n wit Kersfees by hulle.

IMG_2197

Om die naweek saam met Mark hulle af te sluit het ons Sondag by Lecia en Harm in Nuweland gaan eet.  Mark hulle is egter vroeg Maandag oggend net voor 6 hier weg…. die lang en besige pad terug PE toe.

Op ‘n stormagtige Saterdagaand verlede week, vier ons Eldré se 5de  verjaarsdag van haar oorwinning oor kanker met ‘n ete ens in die stad.

Ja, ons dogter is nou 5 jaar skoon van borskanker.  Wat ‘n ongelooflike pad het sy en Rohan nie geloop nie.   Om haar woorde te gebruik:  “Om die kanker pad te gestap het was ‘n intense, persoonlike, life changing event in my en Cofe se lewe gewees”.  En dit het nie net hulle lewens geraak nie, maar ook al die mense rondom hulle.  Ons as ouers was by die aand net nadat hulle die nuus gekry het….. maar life must go on.  Ons is en bly dankbaar vir elke dag en ons doen  kniewerk elke dag.

Dit was net ons klein groepie, Ek en Fred, Linda en Spannie, Rico en Ronelle en Lindie en Pieter Jan wat deel van Eldré en Rohan se feesvierings was.  Ons het vir Marli en Walter gemis…. maar hulle is te vêr!   Ons is 5 uur uit Durbanville weg in die twee 4×4′s van Rohan en Lindie, op pad stad toe vir skemerkelkies.  Ons eerste stop was by die Raddison Hotel.  Met aan die voorkant van die hotel ‘n uitsig op die nuwe Kaapstad Stadion en van die stoep en sitkamer af ‘n uitsig oor die see, is dit ‘n pragtige plek.  Ons sit buite op die stoep met die wind in ons hare (en tande) ‘n skemerkelkie en drink.

Volgende op ons pad is die Daddy Cool hotel vir nog ‘n drankie.  Die idee was om op die dak te kom, maar daar was ‘n privaat funksie aan en kon ons nie op die derde vloer kom nie.  Moontlik ook maar goed so want die wind was so sterk dit kon dalk net probleme veroorsaak het.  Alhoewel, die groot storms het eers gedurende die nag gebeur waar die wind dakke afgewaai het en bome ontwortel het.

Maar die groot do vir die aand is die ete by Addis in Cape. Dis ‘n Ethiopian restaurant in Kerkstraat.  Wat ‘n ondervinding was dit nie vir ons almal nie.  Net Lindie en Pieter Jan het die plekkie geken.  Vir die res van ons was dit ‘n nuwe ervaring.  Doen net bietjie die moeite en gaan kyk op hul website.  Ek plaas ook ‘n paar fotos hier.  Die wyn is heerlik.  Spannie en Linda drink ‘n Etiopiese soet witwyn wat na heuning smaak.  Ons ander hou maar by die gewone.  Ons sit op klein stoeltjies om klein ronde tafeltjies wat soos ‘n grood hoed lyk.  Die hoed word afgehaal en siedaar… ‘n tafeltjie.  Die kos word met die hande ge-eet, en word uitgegooi op ‘n groot ronde pannekoek wat hulle “bread” noem.  Dan kom die broodrolletjies waarmee ons die kos moet eet.  ‘n Ervaring duisend!!  Die koffie was ‘n hoogtepunt.  Hulle maal en brou dit terwyl ons in ‘n kring om die koffiemaker sit.  Dit word in klein koppietjies sonder handvatsels bedien.  Dit is ‘n hele proses om die koffie te maak en die geur versprei die hele vertrek vol.  ‘n Heerlike manier om die aand mee af te sluit.

Hier het ons laat gekuier en ge-eet en gedrink.  Dit was ‘n wonderlike geleentheid om saam met vriende en familie hierdie herdenking te kon vier.

Dis altyd lekker om nuwe vriende te ontmoet…. en maak nie saak waar dit is nie, dit bly spesiaal.   Daar is ‘n rede waarom mense oor jou pad gestuur word… al weet jy nie dadelik hoekom nie… aanvaar dit net en geniet dit.  Partymaal is die tydjie saam baie kort, partykeer loop mens ‘n langer pad saam.  Maar dis min dat jy ‘n persoon ontmoet wat jou verstaan… wat nie oordeel nie…. wat nie allerhande raad uitdeel nie (waarvan sy in elk geval geen benul het nie) en wat jou net aanvaar vir dit wat sy sien.  Dankie vir julle….  Ek waardeer jou vriendskap.

“When we try to keep things the same,
we often end up holding onto people and situations we shoulddn’t,
and ignoring the possibilities for transformation that are presented to us.”
Barbara De Angelis

Nie eers Sondag was rustig nie!  Wat ‘n deurmekaar week.

Miskien moet ek maar net aan die begin begin:

Ons het na baie wik en weeg en somme maak besluit om te verander van sekuriteits firma asook van ons versekerings maatskappye aangesien die premies baie meer bereikbaar is.  Die huis is nog altyd by ABSA verseker en die ander korttermyn versekering by ‘n ander maatskappy.  So gesê, so gedaan.  Gee almal ‘n maand kennis soos dit goeie kliënte betaam.  Na vele briewe aan die sekuriteits firma, waarvan ek liewer nie die naam wil noem nie, bevestig hulle dat alles reg is en die kansellasie vanaf 1 September geldig sal wees.

Maar toe, verlede Maandag, kry ons ‘n mail wat sê dat hulle die bestaande stelsel heeltemal kom uithaal omdat dit by hulle gehuur is al die jare.  Gelukkig het ons toe die bewyse dat die stelsel aangekoop is destyds, 20 maande voordat ek by hulle aangesluit het.  Maar moenie dink hulle wil ons glo nie.  Gelukkig kan Fred lekker baklei as hy weet dat hy reg is, en so sukkel ons elke dag, heen en weer, bel en mail, en uiteindelik Vrydag aanvaar hulle toe die situasie nadat ons gedreig het met hulle hoofbestuur en die koerante.  Toe is alles binne 5 minute uitgestryk.  Nou kom haal hulle net hulle radio uit, wat te verstane is en ook aanvaarbaar is.  Hulle het my senuwees klaar gehad, en Fred se bloeddruk by tye laat styg, maar gelukkig het hy kop gehou en is alles uitgestryk.  Vanoggend kom die man toe om die radio te kom uithaal.  Hy soek die radio in die kas, en op die plafon, maar geen radio is te vinde nie.  Hy bel toe die kantoor en vra dat hulle weer op ons profiel moet kyk, waar die radio is.  O wee….. nee, daar is nie ‘n radio nie!  Net telefoon verbinding.  Nou kan jy nou meer!!!  En dit maak ons net meer kwaad vir hulle.  Ons het dus al die tyd huur betaal vir ‘n radio wat ons nie eers het nie!

Saterdag middag jaag ‘n vroumens amper ons motorafdak uit die grond uit.  Haar motor het die kruiwa met die blomme wat voor in ons tuin staan getref en omgegooi dat hy onder die afdak op die plaveisel lê en jy net grond en plante rondgestrooi sien lê, die groot klippe wat daar lê ook geslaan – die wit van haar motor duidelik gemerk op een van die klippe.  En toe jaag sy weg en gaan versteek haar motor.  Ons weet nou wie dit is, maar sy het die skade en nie ons nie.  Haar houding verbaas my net.  Sy kon tog maar net om verskoning gevra het of iets… maar nouja, dis seker nie hoe dit werk vir haar nie.   Ek was besig in die studeerkamer toe dit gebeur, en het my flou geskrik van die slag.  Al die bure het uitgekom om te sien wat gebeur het.

Ons gaan slaap Saterdag aand redelik vroeg.  Ek word so 2 uur se kant wakker en gaan badkamer toe.  Net weer in die bed geklim toe hoor ek skielik iewers water loop.  Staan weer op om te kyk of dit dan nou so skielik begin reën het.  Kyk by die kamervenster uit.  Nee, niks nie.  Maar by die badkamer venster hoor ek net die gedruis – en sommer erg.  Nou wat nou?  Maak vir Fred wakker, en toe hy dit hoor sê hy dadelik dis die geyser.  Skrik ons koud want ons dink hoe Rico se huis so paar weke gelede gelyk het.   Tot die bure is ook wakker gemaak want die vrou bel ons om te hoor of ons weet van die water wat by ons huis uitkom:-)   Om ‘n lang storie kort te maak – ons geyser het ‘n baie groot oorloop en dit het verhoed dat die water nie in die plafon en dus in die huis in geloop het nie, maar alles buite toe geloop het.   Fred het toe maar net die geyser afgedraai en het ons weer gaan lê nadat die water ophou loop het.   Wat egter die storie nogal snaaks maak, is dat ons versekering by ABSA vandag (Maandag) op ‘n einde kom.  En wonder ons nou wat hulle reaksie gaan wees.  Dis tog nie asof ons die ding met opset gebreek het nie:-)  Dis net vir my baie snaaks dat ek nog nooit ‘n eis gehad het nie, en skielik, op die einde gebeur so iets.

Ons hoor gister dat daar ‘n 24-uur bystand is, en kontak toe vir ABSA.  Ek moet sê, die diens wat ons gister van hulle gekry het, het my baie impressed.  Binne ‘n halfuur nadat ons met ABSA gepraat het, het die mense wat die werk moet doen, ons gekontak, en nog ‘n halfuur later was hy hier by ons.  Hulle wou dit sommer dadelik vervang, maar het toe nie al die pype en goed gehad nie.  Die ou geyser is baie oud, en daar moet aan allerhande nuwe standaarde voldoen word met die insit van die nuwe een.  Ons wou ook nie hê dat hulle dit op die Sondag moet doen nie.  Hulle is nou, terwyl ek hier skryf, daarmee besig.

En word ons nuwe alarmstelsel ook nog vandag installeer.  Ons vertrou dat dit beter sal gaan met die nuwe mense.

Hopelik sal dit vanmiddag rustig wees by ons.  Die mense is uit en in uit die huis uit.  More gaan ons weer aan, en hopelik is die veranderings wat ons nou aangebring het al die moeite werd.

Gedagtes

are_your_thoughts_killing_you

in die donker van die nag
word klein gedagtes groot
ou gedagtes nuut

die vrae van die jongeres
staan skielik groot en swart
waarom dan ek waarom

die pyn wat in haar hart is
vind weerklank in ‘n ander
ongenooid en ongevraagd

want skielik is albei se pyn eenders
maar tog staan dit apart
die oorsaak vêr verwyderd van mekaar

ag Here sien tog die worsteling
antwoord asseblief die vrae
en maak die harte rustig

meonthecomputer-204x300

Bou websites?  Ek?  Nooit gesien!  Maar ek sou graag wou!

Soos dinge mos maar in die lewe gebeur, en sonder enige beplanning, is dit presies wat ek nou doen.  Bou websites!  Nie dat ek dit nog alleen doen nie…. ek word nog gevoer met die hoe en waar.  Maar dis ok vir nou – iewers moet ek leer.  En juis omdat ek dit graag wil doen, het ek al baie onder die knie gekry.

Rohan is bereid om vir my kans te gee om dit te kan doen.

Ek geniet dit verskriklik.  Alhoewel ek nog maar my voete moet vind, wil ek probeer om elke dag iets meer te leer.  Eks baie trots op myself vir wat ek alreeds onder die knie het, en baie dankbaar dat Rohan sy kosbare tyd met my te deel.