In ons gesin was ons 3 kinders. Ek was die jongste met twee ouer broers, Lappies en Gideon. Maar ons het ook ‘n stiefsuster, Annatjie, gehad wat heelwat ouer was as ek. Toe ek gebore is het Annatjie al haar eerste baba, Santa, gehad wie 9 maande ouer as ek is. Twee jaar later is daar vir Santa ‘n boetie gebore, Kosie soos ons hom geken het as seuntjie. Soos wat hy groter geword het, het dié naam verander na Kobus.
Annatjie en Ben, haar man, het op Paulpietersburg in Natal gewoon. In my hoërskooljare het ons in Vryheid gewoon, wat net ‘n hanetreetjie wes was van Paul Pietersburg. Ons het destyds baie oor en weer gekuier, en ek het baie naweke en vakansies by hulle deurgebring.
Na skool het ons paadjies egter uitmekaar geloop.
Ons het getrek Pretoria toe, en ook Annatjie hulle het getrek. Santa is getroud sonder dat ons daar was, en ek is ook getroud sonder dat hulle daar was. Toe ons op Nelspruit gewoon het, het Annatjie en Ben op Middelburg gewoon, waar Ben later oorlede is. In daardie tyd het ons heel dikwels by hulle gekuier.
Nadat ons terug is Pretoria toe, en later Oos Kaap toe getrek het, het ons egter kontak verloor. Annatjie is weer getroud en het op Koppies in die Vrystaat gaan woon waar sy ‘n paar jaar later oorlede is.
In al die tyd het ek en Santa en Kobus nie kontak gemaak of behou nie. As ek nou moet terug dink weet ek nie wat die verwydering veroorsaak het nie. En ja, dit het my van tyd tot tyd gepla, maar ek het netnie die nodige moed of krag gehad om eerste die foon op te tel nie. En so het die jare verby gegaan. Ek was egter bewus daarvan dat hulle tog van tyd tot tyd kontak met Gideon en Lappies gehad het. En dan het die gedagte by my opgekom, hoekom moet ek die eerste skuif maak. Ai, ai, ai.
En toe, so paar weke gelede, bel Gideon my met die nuus dat Santa se man long kanker het. Hulle skoondogter is verlede Desember op 32 dood aan pankreas kanker en het 3 kinders, die jongste slegs 7 maande, agter gelos. Die 3 kinders bly van toe af reeds by Ouma en Oupa.
Ek het dadelik vir haar gebel. Sy was stomgeslaan om van my te hoor, maar ek is so bly dat ek dit wel gedoen het. Dis vir haar nou maar baie moeilik, met veral die ou kleintjie wat nog so baie aandag verg, en haar man wat so siek is.
As ek so luister wanneer Fred van sy grootword jare vertel, dan klink dit so lekker soos hulle familie altyd saam gekuier het. Broers, susters, ooms en tantes, niggies en neefs. Maar dan moet ek darem byvoeg dat hulle almal omtrent bymekaar gebly het en dit dus makliker was om so te kuier. As kind was my familie aan my ma se kant in die Oos Kaap en aan my pa se kant in Natal. Baie ver weg van Smithfield af.
Hmmm…. mens kan seker boeke skryf oor familie. Vir nou is dit goed dat ek en Santa weer kontak gemaak het.
