Category: Mense


In ons gesin was ons 3 kinders.  Ek was die jongste met twee ouer broers, Lappies en Gideon.  Maar ons het ook ‘n stiefsuster, Annatjie, gehad wat heelwat ouer was as ek.  Toe ek gebore is het Annatjie al haar eerste baba, Santa, gehad wie 9 maande ouer as ek is.  Twee jaar later is daar vir Santa ‘n boetie gebore, Kosie soos ons hom geken het as seuntjie.  Soos wat hy groter geword het, het dié naam verander na Kobus.

Annatjie en Ben, haar man, het op Paulpietersburg in Natal gewoon.  In my hoërskooljare het ons in Vryheid gewoon, wat net ‘n hanetreetjie wes was van Paul Pietersburg.  Ons het destyds baie oor en weer gekuier, en ek het baie naweke en vakansies by hulle deurgebring.

Na skool het ons paadjies egter uitmekaar geloop.

Ons het getrek Pretoria toe, en ook Annatjie hulle het getrek.  Santa is getroud sonder dat ons daar was, en ek is ook getroud sonder dat hulle daar was.  Toe ons op Nelspruit gewoon het,  het Annatjie en Ben op Middelburg gewoon, waar Ben later oorlede is.  In daardie tyd het ons heel dikwels by hulle gekuier.

Nadat ons terug is Pretoria toe, en later Oos Kaap toe getrek het, het ons egter kontak verloor.  Annatjie is weer getroud en het op Koppies in die Vrystaat gaan woon waar sy ‘n paar jaar later oorlede is.

In al die tyd het ek en Santa en Kobus nie kontak gemaak of behou nie.  As ek nou moet terug dink weet ek nie wat die verwydering veroorsaak het nie.  En ja, dit het my van tyd tot tyd gepla, maar ek het netnie die nodige moed of krag gehad om eerste die foon op te tel nie.  En so het die jare verby gegaan.  Ek was egter bewus daarvan dat hulle tog van tyd tot tyd kontak met Gideon en Lappies gehad het.  En dan het die gedagte by my opgekom, hoekom moet ek die eerste skuif maak.  Ai, ai, ai.

En toe, so paar weke gelede, bel Gideon my met die nuus dat Santa se man long kanker het.  Hulle skoondogter is verlede Desember op 32 dood aan pankreas kanker en het 3 kinders, die jongste slegs 7 maande, agter gelos.  Die 3 kinders bly van toe af reeds by Ouma en Oupa.

Ek het dadelik vir haar gebel.  Sy was stomgeslaan om van my te hoor, maar ek is so bly dat ek dit wel gedoen het.  Dis vir haar nou maar baie moeilik, met veral die ou kleintjie wat nog so baie aandag verg, en haar man wat so siek is.

As ek so luister wanneer Fred van sy grootword jare vertel, dan klink dit so lekker soos hulle familie altyd saam gekuier het.  Broers, susters, ooms en tantes, niggies en neefs.  Maar dan moet ek darem byvoeg dat hulle almal omtrent bymekaar gebly het en dit dus makliker was om so te kuier.  As kind was my familie aan my ma se kant in die Oos Kaap en aan my pa se kant in Natal.  Baie ver weg van Smithfield af.

Hmmm…. mens kan seker boeke skryf oor familie.  Vir nou is dit goed dat ek en Santa weer kontak gemaak het.

Kersfees 2009 het gekom en gegaan.

Die tweede ou-Kersaand in 10 jaar dat ek nie by Rohan-hulle of Marli-hulle is nie.  Mark, Melanie en die kinders was hierdie jaar by ons, maar is alreeds weer terug PE toe.  Rohan-hulle het ‘n groot partytjie aangehad by mense wat ons nie ken nie.  Ons was ook genooi maar het nie gevoel om met ons klomp mense by vreemdes te gaan afpak nie.  Ek en Fred het nie een in elk geval goed gevoel nie, en was nie lus vir so ‘n klomp mense nie.

Ons het Kersdag almal saam gevier hier by ons.  Dit was lekker om Rohan en Eldre en Linda darem hier te hê, saam met Mark hulle.  Ek mis Marli en Walter baie op sulke familie byeenkomste.  En wonder wanneer ons ooit weer ‘n Kersfees en nuwe jaar saam sal vier.  Maar niks is onmoontlik nie, en vier ons dalk almal een jaar ‘n wit Kersfees by hulle.

IMG_2197

Om die naweek saam met Mark hulle af te sluit het ons Sondag by Lecia en Harm in Nuweland gaan eet.  Mark hulle is egter vroeg Maandag oggend net voor 6 hier weg…. die lang en besige pad terug PE toe.

Op ‘n stormagtige Saterdagaand verlede week, vier ons Eldré se 5de  verjaarsdag van haar oorwinning oor kanker met ‘n ete ens in die stad.

Ja, ons dogter is nou 5 jaar skoon van borskanker.  Wat ‘n ongelooflike pad het sy en Rohan nie geloop nie.   Om haar woorde te gebruik:  “Om die kanker pad te gestap het was ‘n intense, persoonlike, life changing event in my en Cofe se lewe gewees”.  En dit het nie net hulle lewens geraak nie, maar ook al die mense rondom hulle.  Ons as ouers was by die aand net nadat hulle die nuus gekry het….. maar life must go on.  Ons is en bly dankbaar vir elke dag en ons doen  kniewerk elke dag.

Dit was net ons klein groepie, Ek en Fred, Linda en Spannie, Rico en Ronelle en Lindie en Pieter Jan wat deel van Eldré en Rohan se feesvierings was.  Ons het vir Marli en Walter gemis…. maar hulle is te vêr!   Ons is 5 uur uit Durbanville weg in die twee 4×4′s van Rohan en Lindie, op pad stad toe vir skemerkelkies.  Ons eerste stop was by die Raddison Hotel.  Met aan die voorkant van die hotel ‘n uitsig op die nuwe Kaapstad Stadion en van die stoep en sitkamer af ‘n uitsig oor die see, is dit ‘n pragtige plek.  Ons sit buite op die stoep met die wind in ons hare (en tande) ‘n skemerkelkie en drink.

Volgende op ons pad is die Daddy Cool hotel vir nog ‘n drankie.  Die idee was om op die dak te kom, maar daar was ‘n privaat funksie aan en kon ons nie op die derde vloer kom nie.  Moontlik ook maar goed so want die wind was so sterk dit kon dalk net probleme veroorsaak het.  Alhoewel, die groot storms het eers gedurende die nag gebeur waar die wind dakke afgewaai het en bome ontwortel het.

Maar die groot do vir die aand is die ete by Addis in Cape. Dis ‘n Ethiopian restaurant in Kerkstraat.  Wat ‘n ondervinding was dit nie vir ons almal nie.  Net Lindie en Pieter Jan het die plekkie geken.  Vir die res van ons was dit ‘n nuwe ervaring.  Doen net bietjie die moeite en gaan kyk op hul website.  Ek plaas ook ‘n paar fotos hier.  Die wyn is heerlik.  Spannie en Linda drink ‘n Etiopiese soet witwyn wat na heuning smaak.  Ons ander hou maar by die gewone.  Ons sit op klein stoeltjies om klein ronde tafeltjies wat soos ‘n grood hoed lyk.  Die hoed word afgehaal en siedaar… ‘n tafeltjie.  Die kos word met die hande ge-eet, en word uitgegooi op ‘n groot ronde pannekoek wat hulle “bread” noem.  Dan kom die broodrolletjies waarmee ons die kos moet eet.  ‘n Ervaring duisend!!  Die koffie was ‘n hoogtepunt.  Hulle maal en brou dit terwyl ons in ‘n kring om die koffiemaker sit.  Dit word in klein koppietjies sonder handvatsels bedien.  Dit is ‘n hele proses om die koffie te maak en die geur versprei die hele vertrek vol.  ‘n Heerlike manier om die aand mee af te sluit.

Hier het ons laat gekuier en ge-eet en gedrink.  Dit was ‘n wonderlike geleentheid om saam met vriende en familie hierdie herdenking te kon vier.

Dis altyd lekker om nuwe vriende te ontmoet…. en maak nie saak waar dit is nie, dit bly spesiaal.   Daar is ‘n rede waarom mense oor jou pad gestuur word… al weet jy nie dadelik hoekom nie… aanvaar dit net en geniet dit.  Partymaal is die tydjie saam baie kort, partykeer loop mens ‘n langer pad saam.  Maar dis min dat jy ‘n persoon ontmoet wat jou verstaan… wat nie oordeel nie…. wat nie allerhande raad uitdeel nie (waarvan sy in elk geval geen benul het nie) en wat jou net aanvaar vir dit wat sy sien.  Dankie vir julle….  Ek waardeer jou vriendskap.

“When we try to keep things the same,
we often end up holding onto people and situations we shoulddn’t,
and ignoring the possibilities for transformation that are presented to us.”
Barbara De Angelis

Dans…..

Dis 30 April, en Eldré dans eksamen.  Rohan, Fred, Linda en ek gaan saam vir ondersteuning.  Ons kry ‘n lekker lang tafel en maak ons tuis vir ‘n aand van dans, dans, dans.

Dit lyk nie eers of die senuwees knaag nie!  Sy lyk pragtig in ‘n pikswart pakkie.  Sy is derde op die lys.  Monica daag ook op om te kom kyk.   Die tyd breek aan en haar instrukteur kom haal haar.  Elke student dans so 1 minuut aan die verskillende danse.  Eldré gly deur die passies, en kom uiteindelik weer terug by die tafel – gelukkig en dankbaar dat dit verby is.

Ons kyk almal se passies klaar.  Daarna kom die eetgoed, en toe begin die aand eers.  Nou is ALMAL op die baan.  En dit kan nie hoër of laer nie, maar ek en Linda word ook ingesleep.  Die lyndanse is een te veel…. ek lag so dat ek niks kan doen nie.  Dit voel of ek nog nooit gedans het nie…. dit was darem ook jare gelede.  En hierdie mense dans nie normaalweg langarm nie, dis behoorlike passies wat hulle maak.  Heerlik!!

Nog ‘n wonderlike aand!  Doodmoeg is ons huis toe….. more ry ons Paternoster toe en moet vroeg opstaan.

Dankie dat ons dit saam kon beleef!  Die uitslag kom ‘n week later…..

Geluk…. sy is so ‘n natural dat haar onderskeidings nie ‘n verrassing was nie.  Ons wag vir die volgende een!

…en so is die 2008/2009 feesseisoen ook agter die rug, met nog net ‘n paar stuipstrekkings wat oorgebly het. Laasgenoemde in die vorm van oa: te veel geëet, te veel geld gespend, te min geoefen, ens. ens. Ons albei se verjaarsdae het gekom en weer gegaan. Dis vir ons so lekker om ons verjaarsdae so saam te kan vier… want ons begin by Fred en eindig dan by my…. sommer so ‘n paar dae aanmekaar.

Dit was lekker om weer van ou en nuwe vriende te hoor. Met Fred se verjaarsdag Sondag, het ek groot ete gemaak en het Rohan en Eldré by ons kom eet. Dit was aanvanklik die gedagte dat dit albei ons verjaarsdag viering sal wees. Dit was so ‘n lekker dag vir ons albei. Ja, ons sou wat wou gee om al ons kinders hier te hê, maar weet ook dat dit nie moontlik was nie. Ek geniet nog steeds my verjaarsdag soos toe ek ‘n kind was. Dit is MY dag in die jaar. Ek en Linda het lekker gaan fliek en toe pizza gaan eet, en die aand lekker saam met Rohan, Eldré, Linda en Rico gaan uiteet by die Cape Town Fish Market in Tygervallei. Het behoorlik elke minuut van die dag geniet.

Jare gelede, toe ek vir die eerste keer skool toe gegaan het in Smithfield, het ek ‘n maatjie ontmoet. Tot in std 5, of graad 7 soos dit nou bekend staan, was ons baie groot maats en baie na aan mekaar. Nadat Pappa in my std 4 jaar moes aftree, het ons Vryheid toe verhuis, waar ek die res van my skooljare gedoen het. Gedurende hierdie tyd het ek en my laerskool maatjie se kontak verflou en later heeltemal verdwyn. Maar sy was nooit baie vêr uit my gedagtes nie. So ‘n jaar of wat nadat ons skool verlaat het, en ek en my ma Pretoria toe verhuis het, het ek en my “maatjie” weer kontak gemaak. Marie het op daardie stadium in die distrik van ‘n klein dorpie in die Vrystaat gewoon. Ons het ons vriendskap hervat waar ons dit gelos het. In ons grootmens jare het die vriendskap verinnig. So het sy en haar man by ons in Pretoria kom kuier, en het ons weer by hulle gaan kuier op hulle plaas. Nadat ons Oos Kaap toe verhuis het, het ons op ‘n stadium weer kontak verloor, maar, het ons later uitgevind, het ons mekaar nooit regtig vergeet nie. Aangesien ons ook net ‘n week uitmekaar verjaar (sy is ‘n week jonger as ek), het ons elke jaar aan mekaar gedink – tot op ‘n dag dat ek besluit het om haar weer te probeer opspoor, en hierdie keer in Bothaville gevind. En so het ons vriendskap weer gebloei. Ons lewensloop was, snaaks genoeg, baie dieselfde.  Dit was lekker om weer met Marie te kon praat… ons het fotos uitgeruil, en ek sê dankie vir die voorreg om na soveel jare nog vriende te kan wees.

[youtube=http://www.youtube.com/watch?v=X9H_cI_WCnE]

 

Meer oor Purple People Eaters.