Category: Familie


Kersfees 2009 het gekom en gegaan.

Die tweede ou-Kersaand in 10 jaar dat ek nie by Rohan-hulle of Marli-hulle is nie.  Mark, Melanie en die kinders was hierdie jaar by ons, maar is alreeds weer terug PE toe.  Rohan-hulle het ‘n groot partytjie aangehad by mense wat ons nie ken nie.  Ons was ook genooi maar het nie gevoel om met ons klomp mense by vreemdes te gaan afpak nie.  Ek en Fred het nie een in elk geval goed gevoel nie, en was nie lus vir so ‘n klomp mense nie.

Ons het Kersdag almal saam gevier hier by ons.  Dit was lekker om Rohan en Eldre en Linda darem hier te hê, saam met Mark hulle.  Ek mis Marli en Walter baie op sulke familie byeenkomste.  En wonder wanneer ons ooit weer ‘n Kersfees en nuwe jaar saam sal vier.  Maar niks is onmoontlik nie, en vier ons dalk almal een jaar ‘n wit Kersfees by hulle.

IMG_2197

Om die naweek saam met Mark hulle af te sluit het ons Sondag by Lecia en Harm in Nuweland gaan eet.  Mark hulle is egter vroeg Maandag oggend net voor 6 hier weg…. die lang en besige pad terug PE toe.

Op ‘n stormagtige Saterdagaand verlede week, vier ons Eldré se 5de  verjaarsdag van haar oorwinning oor kanker met ‘n ete ens in die stad.

Ja, ons dogter is nou 5 jaar skoon van borskanker.  Wat ‘n ongelooflike pad het sy en Rohan nie geloop nie.   Om haar woorde te gebruik:  “Om die kanker pad te gestap het was ‘n intense, persoonlike, life changing event in my en Cofe se lewe gewees”.  En dit het nie net hulle lewens geraak nie, maar ook al die mense rondom hulle.  Ons as ouers was by die aand net nadat hulle die nuus gekry het….. maar life must go on.  Ons is en bly dankbaar vir elke dag en ons doen  kniewerk elke dag.

Dit was net ons klein groepie, Ek en Fred, Linda en Spannie, Rico en Ronelle en Lindie en Pieter Jan wat deel van Eldré en Rohan se feesvierings was.  Ons het vir Marli en Walter gemis…. maar hulle is te vêr!   Ons is 5 uur uit Durbanville weg in die twee 4×4′s van Rohan en Lindie, op pad stad toe vir skemerkelkies.  Ons eerste stop was by die Raddison Hotel.  Met aan die voorkant van die hotel ‘n uitsig op die nuwe Kaapstad Stadion en van die stoep en sitkamer af ‘n uitsig oor die see, is dit ‘n pragtige plek.  Ons sit buite op die stoep met die wind in ons hare (en tande) ‘n skemerkelkie en drink.

Volgende op ons pad is die Daddy Cool hotel vir nog ‘n drankie.  Die idee was om op die dak te kom, maar daar was ‘n privaat funksie aan en kon ons nie op die derde vloer kom nie.  Moontlik ook maar goed so want die wind was so sterk dit kon dalk net probleme veroorsaak het.  Alhoewel, die groot storms het eers gedurende die nag gebeur waar die wind dakke afgewaai het en bome ontwortel het.

Maar die groot do vir die aand is die ete by Addis in Cape. Dis ‘n Ethiopian restaurant in Kerkstraat.  Wat ‘n ondervinding was dit nie vir ons almal nie.  Net Lindie en Pieter Jan het die plekkie geken.  Vir die res van ons was dit ‘n nuwe ervaring.  Doen net bietjie die moeite en gaan kyk op hul website.  Ek plaas ook ‘n paar fotos hier.  Die wyn is heerlik.  Spannie en Linda drink ‘n Etiopiese soet witwyn wat na heuning smaak.  Ons ander hou maar by die gewone.  Ons sit op klein stoeltjies om klein ronde tafeltjies wat soos ‘n grood hoed lyk.  Die hoed word afgehaal en siedaar… ‘n tafeltjie.  Die kos word met die hande ge-eet, en word uitgegooi op ‘n groot ronde pannekoek wat hulle “bread” noem.  Dan kom die broodrolletjies waarmee ons die kos moet eet.  ‘n Ervaring duisend!!  Die koffie was ‘n hoogtepunt.  Hulle maal en brou dit terwyl ons in ‘n kring om die koffiemaker sit.  Dit word in klein koppietjies sonder handvatsels bedien.  Dit is ‘n hele proses om die koffie te maak en die geur versprei die hele vertrek vol.  ‘n Heerlike manier om die aand mee af te sluit.

Hier het ons laat gekuier en ge-eet en gedrink.  Dit was ‘n wonderlike geleentheid om saam met vriende en familie hierdie herdenking te kon vier.

Dans…..

Dis 30 April, en Eldré dans eksamen.  Rohan, Fred, Linda en ek gaan saam vir ondersteuning.  Ons kry ‘n lekker lang tafel en maak ons tuis vir ‘n aand van dans, dans, dans.

Dit lyk nie eers of die senuwees knaag nie!  Sy lyk pragtig in ‘n pikswart pakkie.  Sy is derde op die lys.  Monica daag ook op om te kom kyk.   Die tyd breek aan en haar instrukteur kom haal haar.  Elke student dans so 1 minuut aan die verskillende danse.  Eldré gly deur die passies, en kom uiteindelik weer terug by die tafel – gelukkig en dankbaar dat dit verby is.

Ons kyk almal se passies klaar.  Daarna kom die eetgoed, en toe begin die aand eers.  Nou is ALMAL op die baan.  En dit kan nie hoër of laer nie, maar ek en Linda word ook ingesleep.  Die lyndanse is een te veel…. ek lag so dat ek niks kan doen nie.  Dit voel of ek nog nooit gedans het nie…. dit was darem ook jare gelede.  En hierdie mense dans nie normaalweg langarm nie, dis behoorlike passies wat hulle maak.  Heerlik!!

Nog ‘n wonderlike aand!  Doodmoeg is ons huis toe….. more ry ons Paternoster toe en moet vroeg opstaan.

Dankie dat ons dit saam kon beleef!  Die uitslag kom ‘n week later…..

Geluk…. sy is so ‘n natural dat haar onderskeidings nie ‘n verrassing was nie.  Ons wag vir die volgende een!