Nie eers Sondag was rustig nie! Wat ‘n deurmekaar week.
Miskien moet ek maar net aan die begin begin:
Ons het na baie wik en weeg en somme maak besluit om te verander van sekuriteits firma asook van ons versekerings maatskappye aangesien die premies baie meer bereikbaar is. Die huis is nog altyd by ABSA verseker en die ander korttermyn versekering by ‘n ander maatskappy. So gesê, so gedaan. Gee almal ‘n maand kennis soos dit goeie kliënte betaam. Na vele briewe aan die sekuriteits firma, waarvan ek liewer nie die naam wil noem nie, bevestig hulle dat alles reg is en die kansellasie vanaf 1 September geldig sal wees.
Maar toe, verlede Maandag, kry ons ‘n mail wat sê dat hulle die bestaande stelsel heeltemal kom uithaal omdat dit by hulle gehuur is al die jare. Gelukkig het ons toe die bewyse dat die stelsel aangekoop is destyds, 20 maande voordat ek by hulle aangesluit het. Maar moenie dink hulle wil ons glo nie. Gelukkig kan Fred lekker baklei as hy weet dat hy reg is, en so sukkel ons elke dag, heen en weer, bel en mail, en uiteindelik Vrydag aanvaar hulle toe die situasie nadat ons gedreig het met hulle hoofbestuur en die koerante. Toe is alles binne 5 minute uitgestryk. Nou kom haal hulle net hulle radio uit, wat te verstane is en ook aanvaarbaar is. Hulle het my senuwees klaar gehad, en Fred se bloeddruk by tye laat styg, maar gelukkig het hy kop gehou en is alles uitgestryk. Vanoggend kom die man toe om die radio te kom uithaal. Hy soek die radio in die kas, en op die plafon, maar geen radio is te vinde nie. Hy bel toe die kantoor en vra dat hulle weer op ons profiel moet kyk, waar die radio is. O wee….. nee, daar is nie ‘n radio nie! Net telefoon verbinding. Nou kan jy nou meer!!! En dit maak ons net meer kwaad vir hulle. Ons het dus al die tyd huur betaal vir ‘n radio wat ons nie eers het nie!
Saterdag middag jaag ‘n vroumens amper ons motorafdak uit die grond uit. Haar motor het die kruiwa met die blomme wat voor in ons tuin staan getref en omgegooi dat hy onder die afdak op die plaveisel lê en jy net grond en plante rondgestrooi sien lê, die groot klippe wat daar lê ook geslaan – die wit van haar motor duidelik gemerk op een van die klippe. En toe jaag sy weg en gaan versteek haar motor. Ons weet nou wie dit is, maar sy het die skade en nie ons nie. Haar houding verbaas my net. Sy kon tog maar net om verskoning gevra het of iets… maar nouja, dis seker nie hoe dit werk vir haar nie. Ek was besig in die studeerkamer toe dit gebeur, en het my flou geskrik van die slag. Al die bure het uitgekom om te sien wat gebeur het.
Ons gaan slaap Saterdag aand redelik vroeg. Ek word so 2 uur se kant wakker en gaan badkamer toe. Net weer in die bed geklim toe hoor ek skielik iewers water loop. Staan weer op om te kyk of dit dan nou so skielik begin reën het. Kyk by die kamervenster uit. Nee, niks nie. Maar by die badkamer venster hoor ek net die gedruis – en sommer erg. Nou wat nou? Maak vir Fred wakker, en toe hy dit hoor sê hy dadelik dis die geyser. Skrik ons koud want ons dink hoe Rico se huis so paar weke gelede gelyk het. Tot die bure is ook wakker gemaak want die vrou bel ons om te hoor of ons weet van die water wat by ons huis uitkom:-) Om ‘n lang storie kort te maak – ons geyser het ‘n baie groot oorloop en dit het verhoed dat die water nie in die plafon en dus in die huis in geloop het nie, maar alles buite toe geloop het. Fred het toe maar net die geyser afgedraai en het ons weer gaan lê nadat die water ophou loop het. Wat egter die storie nogal snaaks maak, is dat ons versekering by ABSA vandag (Maandag) op ‘n einde kom. En wonder ons nou wat hulle reaksie gaan wees. Dis tog nie asof ons die ding met opset gebreek het nie:-) Dis net vir my baie snaaks dat ek nog nooit ‘n eis gehad het nie, en skielik, op die einde gebeur so iets.
Ons hoor gister dat daar ‘n 24-uur bystand is, en kontak toe vir ABSA. Ek moet sê, die diens wat ons gister van hulle gekry het, het my baie impressed. Binne ‘n halfuur nadat ons met ABSA gepraat het, het die mense wat die werk moet doen, ons gekontak, en nog ‘n halfuur later was hy hier by ons. Hulle wou dit sommer dadelik vervang, maar het toe nie al die pype en goed gehad nie. Die ou geyser is baie oud, en daar moet aan allerhande nuwe standaarde voldoen word met die insit van die nuwe een. Ons wou ook nie hê dat hulle dit op die Sondag moet doen nie. Hulle is nou, terwyl ek hier skryf, daarmee besig.
En word ons nuwe alarmstelsel ook nog vandag installeer. Ons vertrou dat dit beter sal gaan met die nuwe mense.
Hopelik sal dit vanmiddag rustig wees by ons. Die mense is uit en in uit die huis uit. More gaan ons weer aan, en hopelik is die veranderings wat ons nou aangebring het al die moeite werd.
