
http://s.wsj.net/media/Mazeblog_F_20090320150300.jpg
29 April en dis Eldré se verjaarsdag. Hierdie jaar gaan ons uit eet om dit te vier. Haar keuse val op die nuwe Maze Restaurant van Gordon Ramsey in die One and Only hotel op die Waterfront. Sy en Rohan was daar met die opening van die restaurant so ‘n paar weke gelede. Sheezz…. sal moet fyn trap - dis nie die soort plek waar ons normaalweg kan by uithang nie!! Lees Rohan se blog om te sien wat sy indruk was van dié restaurant.
Amazing! Superb!! Hier word dinge in styl gedoen…. en ek meen STYL!! Dis NIE jou allerdaagse restaurant hierdie nie!! O nee!! Voor die ingang van die hotel klim ons uit en word die Fortuner se sleutel oorhandig aan iemand wat hom veilig gaan parkeer sodat ons die aand kan geniet. By die ingang van die restaurant loop ons verby ‘n reuse groote glas muur met 1000′e bottels wyn (“maze is home to the country’s largest and most innovative collection of South African wine – housed in a magnificent tri-level wine loft. Over 6,000 bottles of South African wine from vintages of Cape Pinotage and Shiraz to both acclaimed and undiscovered South African vintages are on offer”. Links en regs word ons ontvang asof ons ou vriende is. Die vriendelikheid straal behoorlik uit hierdie mense en kan ons die egtheid van hul vriendelikheid aanvoel. Die Maitre D, Jean-Philippe, vergesel ons tafel toe.
By die tafel word elkeen van ons se stoele vir ons uitgetrek en ons jasse weggeneem sodat dit nie in ons pad sal wees nie.
Die decor is absoluut ongelooflik!! Ek het gevoel soos Aspoestertjie seker gevoel het toe sy skielik by die balsaal ingestap het. Rohan neem my vir ‘n toer deur die restaurant. Ek moes net keer of my mond hang oop!
Die kelners beweeg soos skimme om ons. Hulle is heeltyd daar maar mens is nie eers bewus van hulle nie – en nie net een nie! Ek weet eintlik nie eers hoeveel daar was nie. Hier word die gaste op die hande gedra. Alles word vir jou gedoen (selfs om water in jou glas te gooi – jy word nie toegelaat om dit self te doen nie) – jy is hier om jouself te geniet en heeltemal te ontspan.
Linda en ek besluit om nie voorgereg te eet nie – ons sal liewer vir die nagereg gaan. Eldré en Rohan bestel Krap en Fred bestel Kwarteltjies as voorgereg. Gelukkig deel hulle darem met ons. Ek kan nie besluit watter van die twee die lekkerste is nie. Dis die eerste keer in my lewe dat ek Kwarteltjies eet….. hulle is HEERLIK!! So sag, dit smelt sommer so in jou mond.
Hoofgereg vir my is steak. (Ons hou maar verby die wagju. Teen R750.00 vir 200 gram is dit darem net ‘n bietjie vêr bo ons vuurmaakplek.) My kos is heerlik en die steak smaaklik voorberei en bedien – ongelooflik! Die nagereg – wat kan ek sê. Met ‘n soet tand soos myne kan ek nie glo wat ek proe nie!! Rohan bestel weer sy “basil ice cream” en laat hy my proe. Aanvanklik kon ek nie dié twee bymekaar bring nie…. basil en roomys! Wat ‘n snaakse kombinasie. Maar ongelooflik lekker! Marli hulle het al vir ons vertel dat hulle op ‘n keer knoffel roomys geëet het….. wat die mense nie nog sal uitdink nie.
Daarna is dit koffie tyd, en word nog ‘n bordjie met soet goedjies tafel toe gebring – let wet dat ons dit nie bestel het nie…. dis sommer so op die huis (of moet ek sê op die restaurant?) En om die kroon op die aand te span bring Jean-Philippe vir Eldré haar geskenk. ‘n Reuse sjokolade poeding met vrugte op. Teen daardie tyd het nie een van ons ‘n plekkie oor in ons magies nie, maar ons moet darem proe aan hierdie lekkerte!! Daarna word die res toegedraai in die vorm van ‘n swaan om huis toe te neem.
Manjefiek!! Hierdie ervaring van hoe die gegoede mense hul tyd verdryf was ongelooflik. Wat kan ek meer sê? Dankie dat ons dit kon meemaak.
