Dis 1:00 in die oggend….. en die slaap bly my ontwyk.  Hoekom, het ek al baie gedink, kan ek so moeg wees dat ek nie my oe kan oophou nie, maar Klaasvakie wil net nie die laaste bietjie sandjies strooi nie.  My brein is helder verby…..

In die donker ure van die nag gebeur snaakse goed met ‘n mens.  Partykeer maak die gedagtes wat so rondfladder deur jou kop, jou deurmekaar en maak niks sin nie.  Ander kere weer kies jy koers in ‘n rigting in en kry jy antwoorde op vrae wat al lankal wag daarop. Partykeer maak ‘n nuwe idee haar tuis in ‘n een van die kamers van jou brein en wag om ontgin te word.  Ander kere is jy net wakker, en draai jy om en om in jou bed!  Partykeer probeer jy so hard om te slaap dat jou kop seer word.  Dan weer laat jy toe dat gedagtes jou van koers af kry en vou die donkerte om jou soos ‘n dik kombers wat jou wil versmoor.

Gelukkig is daar ook die kere wat jy dit reg kry om te konsentreer en ‘n boek te lees tot die vroe oggend ure wanneer Klaasvakie besluit om jou die uitklophou te gee.  Of is die boek so goed dat jy baklei teen die broodnodige slaap…. net nog een blaai, en … net nog een blaai.  En partykeer word jy ‘n paar uur later wakker met die boek op jou bors en die bril nog op jou oe.

Dan is daar ook die kere dat jy met jou God en Hemelse Vader gesels.  Jy verbaas jouself oor die dinge wat binne in jou opgekrop is, of oor die geluk wat uit die hart uit stroom oor al die seeninge wat jy ontvang.  Jy bid dan vir jou kinders en kleinkinders, vir jou broers en susters en familie.  Partykeer se jy net dankie en  verwonder jy jou oor hoe baie jy eintlik het om voor dankbaar te wees en hoe baie dinge jy as vanselfsprekend aanvaar.

En terwyl al hierdie gedagtes uit my vingers vloei, ervaar ek soveel dankbaarheid.  Dankbaarheid vir soveel liefde wat die Here op my en Fred uitstort.  Dankbaarheid vir ons kinders wie vir ons so goed is, en so lief is.  Dankbaarheid vir hulle wie dit moontlik gemaak het dat ons  ‘n wonderlike 3 maande vakansie hier in Europa kan geniet.  Iemand het nou die dag vir my gese dat as sy eendag groot is, wil sy ook oorsee gaan.  So, ek het dan seker nou groot geword!!  Dankbaarheid vir vriende en familie en die ondersteuning ontvang in moeilike tye.  Dankbaar vir ons gesondheid.

Maar nou word die vingers lam, en dis tyd om weer my kop te gaan neerle.  Miskien was dit net nodig om party van dit wat in my kop ronddraai op papier te sit.  Miskien was hierdie dag net te lekker en wil ek nie daarvan afskeid neem nie.  Maar om more weer alles te kan geniet wat hierdie mooie Duitsland vir ons bied, moet my kop nou op ‘n kussing kom.

Lekker slaap