Hierdie gedagtes het ek op 28 Januarie 2009 geskryf, maar nie gepubliseer nie. Vandag voel ek egter dat ek dit wil uitkry, vir wat dit mag werd wees. Dankie Jeanne, vir ‘n wonderlike boek.
‘n Wonderlike boek (deur Jeanne Els) van hoop. Om lig te kan dans op die rand van die groot swart gat! En dis moontlik!
Terwyl die slaap my ontwyk, en ek lê en rondrol in die bed, verdring die gedagtes mekaar. Dit skreeu ten hemele om uit te kom en georden te word. En nou, nadat ek opgestaan het en voor my rekenaar kom sit het, het alles skielik die wyk geneem! Eintlik, weet ek nou al uit ondervinding, is dit nie waar nie, want hulle skuil maar net in die diep kamers van my siel, en wag net vir daardie onbewaakte oomblik wanneer almal tegelyk weer kan uitkom om my rond te jaag.
Depressie is ‘n alleen siekte. Dit is mos iets waaroor jy nie praat nie… want die buitewêreld verstaan dit nie. ‘n Mens kan ‘n hartaanval kry, of kanker kry, of ‘n diabeet wees, of verkoue of griep hê, maar moet tog net nie aan depressie ly nie! Om te praat van die chemiese wanbalans in jou brein is om negatief te wees. Dis dan wanneer ‘n boek soos Ligdans hoop gee.
Om teen depressie te veg is ‘n permanente stryd. En hoe groter die stryd, hoe meer word die vrae en hoe meer kraak jy jouself af. Lees ‘n mens bietjie op op die internet van wat sogenaamde “mense wat weet” sê, breek hulle jou verder af met woorde soos “sonde”, “glo nie in God nie”, regruk” ens ens. In plaas van om ‘n hand van liefde, soos die woord van God aan ons voorhou, uit te reik, word daar ‘n oordeel gevel. Ek lees selfs van “iemand met ‘n farmaseutiese agtergrond” wat sê dat die gebruik van medikasie slegs die onderdrukking van simptome is. Dan leer ek om liewers my gedagtes vir myself te hou, op my knieë te bly, profesionele hulp te soek, negatiewe kommentaar te ignoreer (al voel ek ek kan so ‘n persoon met kaal hande vermorsel), en mense wat my aftrek te vermy. En om my “rol” na die buitewêreld na die beste van my vermoë te vertolk.
