Latest Entries »

APIE GEKLETS

Apiegeklets

Die Apiegeklets

APIE GEKLETS…. wat ‘n beskrywende woord.  Dis nie ‘n woord wat in ‘n woordeboek voorkom nie, maar vir iemand wie se gedagtes nie tot rus wil kom as dit slaaptyd word nie, is dit absoluut beskrywend.  Want terwyl jy dan op die bed lê met jou oë toe en wag dat die slaap moet kom, begin die apies met hul geklets hier in jou kop.   Jy kan later nie kop of stert daarvan uitmaak nie.  Dit gaan woes.  Almal praat gelyk en die slaap raak al hoe verder weg.

Dié pragtige woord het ek een oggend oor die radio gehoor toe ‘n psigiater gepraat het oor stress hantering.  Hoe baie het ek nie al daaroor (stress) gelees en navorsing gedoen nie.  En dis mos maar ‘n siekte van ons tyd – en elkeen probeer hanteer dit op sy eie manier.

Hoe baie het ons nie in ons jong dae gedroom van aftrede nie.  Wat ons sou doen, hoe ons sou toer, en moontlik ‘n huisie by die see, ens ens.  En ons het gedink dat ons voorsien het vir ons oudag.  Maar die lewe loop nie altyd met jou op paaie waarvan jy hou nie.  En is dit maar moeilik om altyd positief te bly.  Deesdae, met die ekonomie wat in sy peetjie in is, en met alles wat so duur is, word dit ook nie makliker nie.

Ons het egter so baie waarvoor ek dankbaar is.  Daarom wil ek hoegenaamd nie die indruk skep dat ek wil kla nie.   Ek probeer net op skrif bietjie orde in my kop kry.  Ja, ek vra baie vrae (van daar seker die apie geklets:-)), en kry nie altyd die antwoorde wat ek soek of wil hê nie.   Ja, ons moet die rieme maar dun sny deesdae, soos almal wereldwyd dit seker ondervind.  Dit verg nogal partykeer naelbyt, en natuurlik sit my blaas mos onder my oë.

Ek het lanklaas geskryf.  Ek wonder nogal hoekom dit nie meer so maklik kom nie.  Die woorde wil ook nie vloei vanaand nie…. seker omdat ek al so moeg is… en die slaap bly my ontwyk.

Dans…..

Dis 30 April, en Eldré dans eksamen.  Rohan, Fred, Linda en ek gaan saam vir ondersteuning.  Ons kry ‘n lekker lang tafel en maak ons tuis vir ‘n aand van dans, dans, dans.

Dit lyk nie eers of die senuwees knaag nie!  Sy lyk pragtig in ‘n pikswart pakkie.  Sy is derde op die lys.  Monica daag ook op om te kom kyk.   Die tyd breek aan en haar instrukteur kom haal haar.  Elke student dans so 1 minuut aan die verskillende danse.  Eldré gly deur die passies, en kom uiteindelik weer terug by die tafel – gelukkig en dankbaar dat dit verby is.

Ons kyk almal se passies klaar.  Daarna kom die eetgoed, en toe begin die aand eers.  Nou is ALMAL op die baan.  En dit kan nie hoër of laer nie, maar ek en Linda word ook ingesleep.  Die lyndanse is een te veel…. ek lag so dat ek niks kan doen nie.  Dit voel of ek nog nooit gedans het nie…. dit was darem ook jare gelede.  En hierdie mense dans nie normaalweg langarm nie, dis behoorlike passies wat hulle maak.  Heerlik!!

Nog ‘n wonderlike aand!  Doodmoeg is ons huis toe….. more ry ons Paternoster toe en moet vroeg opstaan.

Dankie dat ons dit saam kon beleef!  Die uitslag kom ‘n week later…..

Geluk…. sy is so ‘n natural dat haar onderskeidings nie ‘n verrassing was nie.  Ons wag vir die volgende een!

http://s.wsj.net/media/Mazeblog_F_20090320150300.jpg

http://s.wsj.net/media/Mazeblog_F_20090320150300.jpg

29 April en dis Eldré se verjaarsdag.  Hierdie jaar gaan ons uit eet om dit te vier.  Haar keuse val op die nuwe Maze Restaurant van Gordon Ramsey in die One and Only hotel op die Waterfront.    Sy en Rohan was daar met die opening van die restaurant so ‘n paar weke gelede.  Sheezz…. sal moet fyn trap - dis nie die soort plek waar ons normaalweg kan by uithang nie!!   Lees Rohan se blog om te sien wat sy indruk was van dié restaurant.

Amazing!  Superb!!  Hier word dinge in styl gedoen…. en ek meen STYL!!  Dis NIE  jou allerdaagse restaurant hierdie nie!!  O nee!!  Voor die ingang van die hotel klim ons uit en word die Fortuner se sleutel oorhandig aan iemand wat hom veilig gaan parkeer sodat ons die aand kan geniet.  By die ingang van die restaurant loop ons verby ‘n reuse groote glas muur met 1000′e bottels wyn (“maze is home to the country’s largest and most innovative collection of South African wine – housed in a magnificent tri-level wine loft. Over 6,000 bottles of South African wine from vintages of Cape Pinotage and Shiraz to both acclaimed and undiscovered South African vintages are on offer”.  Links en regs word ons ontvang asof ons ou vriende is.     Die vriendelikheid straal behoorlik uit hierdie mense en kan ons die egtheid van hul vriendelikheid aanvoel.  Die Maitre D, Jean-Philippe, vergesel ons tafel toe.

By die tafel word elkeen van ons se stoele vir ons uitgetrek en ons jasse weggeneem sodat dit nie in ons pad sal wees nie.

Die decor is absoluut ongelooflik!!  Ek het gevoel soos Aspoestertjie seker gevoel het toe sy skielik by die balsaal ingestap het.  Rohan neem my vir ‘n toer deur die restaurant.  Ek moes net keer of my mond hang oop!

Die kelners beweeg soos skimme om ons.  Hulle is heeltyd daar maar mens is nie eers bewus van hulle nie – en nie net een nie!  Ek weet eintlik nie eers hoeveel daar was nie.   Hier word die gaste op die hande gedra.  Alles word vir jou gedoen (selfs om water in jou glas te gooi – jy word nie toegelaat om dit self te doen nie) – jy is hier om jouself te geniet en heeltemal te ontspan.

Linda en ek besluit om nie voorgereg te eet nie – ons sal liewer vir die nagereg gaan.  Eldré en Rohan bestel Krap en Fred bestel Kwarteltjies as voorgereg.  Gelukkig deel hulle darem met ons.  Ek kan nie besluit watter van die twee die lekkerste is nie.   Dis die eerste keer in my lewe dat ek Kwarteltjies eet….. hulle is HEERLIK!!  So sag, dit smelt sommer so in jou mond.

Hoofgereg vir my is steak.  (Ons hou maar verby die wagju.  Teen R750.00 vir 200 gram is dit darem net ‘n bietjie vêr bo ons vuurmaakplek.)  My kos is heerlik en die steak smaaklik voorberei en bedien – ongelooflik!  Die nagereg – wat kan ek sê.  Met ‘n soet tand soos myne kan ek nie glo wat ek proe nie!!  Rohan bestel weer sy “basil ice cream” en laat hy my proe.  Aanvanklik kon ek nie dié twee bymekaar bring nie…. basil en roomys!  Wat ‘n snaakse kombinasie.  Maar ongelooflik lekker!  Marli hulle het al vir ons vertel dat hulle op ‘n keer knoffel roomys geëet het….. wat die mense nie nog sal uitdink nie.

Daarna is dit koffie tyd, en word nog ‘n bordjie met soet goedjies tafel toe gebring – let wet dat ons dit nie bestel het nie…. dis sommer so op die huis (of moet ek sê op die restaurant?)  En om die kroon op die aand te span bring Jean-Philippe vir Eldré haar geskenk.  ‘n Reuse sjokolade poeding met vrugte op.  Teen daardie tyd het nie een van ons ‘n plekkie oor in ons magies nie, maar ons moet darem proe aan hierdie lekkerte!!  Daarna word die res toegedraai in die vorm van ‘n swaan om huis toe te neem.

Manjefiek!!  Hierdie ervaring van hoe die gegoede mense hul tyd verdryf was ongelooflik.   Wat kan ek meer sê?  Dankie dat ons dit kon meemaak.

Die tyd staan nie stil nie!  Die dae loop so vinnig in mekaar in dat dit voel of mens op ‘n trein sit op pad na êrens en die wiele bly rol en rol……

Daar het so baie dinge in ons lewens gebeur die afgelope tyd dat dit voel of  ek nie heeltemal kan byhou nie.  Fred het weer in die hospitaal beland.  Sedert hy Desember ook 2 stents gekry het, was hy nog glad nie weer homself nie.  Daarom was die skok soveel erger toe hy weer moes ingaan.  Daarna het hy besluit om nou finaal af te treë… hy kan nie meer die werk hanteer nie.

Tyd vir nog veranderings in ons lewe.  Vergaderings met al ons kinders, en insette,  en daarna met Kobus, vir wie ons ewig dankbaar is vir al sy tyd en hulp wat hy verleen.  Aanpassings wat moet gedoen word ens.  En natuurlik iets wat nou baie punte tel is ons vrye tyd!

Ons sou oorspronklik, toe dit 2 maande gelede gereël is, vir ‘n naweek na Marie en Joep toe gaan in Onrusrivier… maar aangesien ons mos nou tyd op hande het, en Fred siek is, het hulle ons genooi om sommer so 10 dae daar te kuier.  Dit was heerlik en ontspanne.  So 2 dae koelerig gewees, maar verder die mooiste weer.

Eina! Die water is dan koud man!

Eina! Die water is dan koud man!

En natuurlik het ons die hondjies so geniet.  Ontmoet vir Benji en Ziggi, die ou kleintjie.  Moenie dat sy grootte jou mislei nie – hy is al 4 maande oud.

Dis nou tyd vir toutrek... ek dink Benji leer vir Ziggi hoe om dit te doen:-)

Dis nou tyd vir toutrek... ek dink Benji leer vir Ziggi hoe om dit te doen:-)

Agge nee Ouboet.. ek kan nie bykom nie!!

Agge nee Ouboet.. ek kan nie bykom nie!!

Ons het egter die naweek wat verby is vir Nicolas en Jody gaan oppas…. en hulle het soos reuse gevoel teenoor die kleintjies van laas naweek.  Die diere kruip darem so diep in ‘n mens se hart in.

Bevoorreg – die Kritzinger/Eksteen vertalende woordeboek sê dit beteken: voorregte gee; begunstig; welgesteld.  Dit is wat ek is om hier, in die middel van die dag, te kan voor my rekenaar sit en gedagtes uitryg.  Ek is dus ‘n voorreg gegee om nie meer in die korporatiewe wêreld vir myself  ‘n plekkie in die son te probeer uitbaklei nie; eks is begunstig dat ek tuis kan bly en my besig hou met dinge waarvan ek hou en waarvoor ek lief is; en welgesteld omdat my lewe vol is van die liefde van God, my dierbare man, ons pragtige kinders en my getroue vriendinne.

Ek is vanoggend weer so dankbaar vir soveel seëninge, en dan maak dit my hartseer dat, ten spyte van al die goeie dinge, ek tog van tyd tot tyd weer baklei teen die donker gat.  Vandag is egter te mooi om my tyd te mors om daaroor te dink.  Vandag het ek die pakkie mooi opgemaak en aan die voete van Jesus gaan neerlê.  Dit is nou in Sy hande.  Vir vandag gaan ek voluit leef, die website ‘n go gee, en gelukkig wees.  Die son skyn helder daar buite, dis heerlik warm en ek sit heerlik in ‘n koel huis.

Groete aan jou, as jy dalk vandag by my hoekie inloer.

…en so is die 2008/2009 feesseisoen ook agter die rug, met nog net ‘n paar stuipstrekkings wat oorgebly het. Laasgenoemde in die vorm van oa: te veel geëet, te veel geld gespend, te min geoefen, ens. ens. Ons albei se verjaarsdae het gekom en weer gegaan. Dis vir ons so lekker om ons verjaarsdae so saam te kan vier… want ons begin by Fred en eindig dan by my…. sommer so ‘n paar dae aanmekaar.

Dit was lekker om weer van ou en nuwe vriende te hoor. Met Fred se verjaarsdag Sondag, het ek groot ete gemaak en het Rohan en Eldré by ons kom eet. Dit was aanvanklik die gedagte dat dit albei ons verjaarsdag viering sal wees. Dit was so ‘n lekker dag vir ons albei. Ja, ons sou wat wou gee om al ons kinders hier te hê, maar weet ook dat dit nie moontlik was nie. Ek geniet nog steeds my verjaarsdag soos toe ek ‘n kind was. Dit is MY dag in die jaar. Ek en Linda het lekker gaan fliek en toe pizza gaan eet, en die aand lekker saam met Rohan, Eldré, Linda en Rico gaan uiteet by die Cape Town Fish Market in Tygervallei. Het behoorlik elke minuut van die dag geniet.

Jare gelede, toe ek vir die eerste keer skool toe gegaan het in Smithfield, het ek ‘n maatjie ontmoet. Tot in std 5, of graad 7 soos dit nou bekend staan, was ons baie groot maats en baie na aan mekaar. Nadat Pappa in my std 4 jaar moes aftree, het ons Vryheid toe verhuis, waar ek die res van my skooljare gedoen het. Gedurende hierdie tyd het ek en my laerskool maatjie se kontak verflou en later heeltemal verdwyn. Maar sy was nooit baie vêr uit my gedagtes nie. So ‘n jaar of wat nadat ons skool verlaat het, en ek en my ma Pretoria toe verhuis het, het ek en my “maatjie” weer kontak gemaak. Marie het op daardie stadium in die distrik van ‘n klein dorpie in die Vrystaat gewoon. Ons het ons vriendskap hervat waar ons dit gelos het. In ons grootmens jare het die vriendskap verinnig. So het sy en haar man by ons in Pretoria kom kuier, en het ons weer by hulle gaan kuier op hulle plaas. Nadat ons Oos Kaap toe verhuis het, het ons op ‘n stadium weer kontak verloor, maar, het ons later uitgevind, het ons mekaar nooit regtig vergeet nie. Aangesien ons ook net ‘n week uitmekaar verjaar (sy is ‘n week jonger as ek), het ons elke jaar aan mekaar gedink – tot op ‘n dag dat ek besluit het om haar weer te probeer opspoor, en hierdie keer in Bothaville gevind. En so het ons vriendskap weer gebloei. Ons lewensloop was, snaaks genoeg, baie dieselfde.  Dit was lekker om weer met Marie te kon praat… ons het fotos uitgeruil, en ek sê dankie vir die voorreg om na soveel jare nog vriende te kan wees.

2008 lê op sy rug. Nog ‘n paar stuiptrekkings en nog ‘n jaar is verby. Vir altyd verby. En vandag is dit presies ‘n jaar gelede dat ek ABSA se stof finaal van my voete afgeskud het. ‘n Wens wat waar geword het in 2007 en ‘n baie groot voorreg!

Dit was ‘n jaar vol hoogtepunte. ‘n Tyd waarin ek dinge kon doen wat ek nooit geglo het sal ooit gebeur nie. ‘n Tyd waar vergete drome bewaarheid is. ‘n Tyd wat te vinnig verby is.

Nooit is ‘n lang tyd. En dit is wat ek gedink het: ek sal nooit vir Marli en Walter oorsee kan gaan kuier nie, of ooit oorsee kan gaan nie. Nooit Switserland met sy Alpe sien nie. Juis daarom was ons verjaardag geskenke van ons kinders af, in die vorm van vliegtuigkaartjies Duitsland toe, ‘n baie, baie groot en wonderlike verrassing! “Wees versigtig vir wat jy wens” is die gesegde…. dis weereens as ‘n feit bewys.

Die eerste 5 maande van hierdie jaar was baie besig. Dit was heerlik om so reëlings te tref. Vir mense wat gereëld oorsee gaan, is dit seker maar net nog ‘n vakansie. Vir my was dit iets nuut. Het nie besef daar is so baie dinge wat gereël moet word, en so baie goed waaraan aandag gegee moet word nie. Die grootste probleem natuurlik om paspoorte te kry. Die ure se gestaan by Binnelandse Sake. Die gesoek na genoeg mediese versekering. Maar dit alles was aan die einde van die dag ‘n wonderlike ondervinding. En het ek die uitdaging wat ek aan myself gestel het gedurende hierdie tyd, tot uitvoer gebring. En net voor ons vertrek ‘n besoek van Mark om te kom groet, wat vir ons baie beteken het.

Ons het wonderlike ondervinding en wonderlike ervarings gehad in die 3 maande in Duitsland saam met Marli en Walter. Ons het Kersfees in Junie gevier, en Marli se verjaardag vir dae aanmekaar gevier. Ons het Kent en London besoek, baie plekke in Duitsland besoek, en deur Frankryk gery op pad Switserland toe. Die belewenis om die Alpe in al sy grootsheid te aanskou, daarop te loop, te ry, en daaroor te vlieg, was wonderlik. Die paragliding bo Interlaken ‘n ondervinding wat ek nooit, ooit sal vergeet nie! Ons het met die vinnige trein en die stadige treine gery, ons het die Duitsers en hul taal en gewoontes ervaar, op eie stoom later die openbare vervoer aangedurf, kilometers op ‘n dag gestap en baie bier gedrink en “apfel strudel” geëet. En ‘n “strassenfest” bygewoon. Ons het die katte en al hul maniertjies geniet, en urelank probeer om Tigi se vertroue te wen. Die Cologne Katedraal was ‘n hoogtepunt en die klim van al daai trappe tot heel bo. En moenie die sjokolade vergeet nie. Ag, daars te veel om op te noem.

Die lekkerste was die heerlike kuier met die kinders. Die baie ure se gesels. Om te ervaar en met eie oë te sien hoe hulle leef – hul werkplekke te sien. Selfs van hul kollegas ontmoet. Om weer te kan voel dat ek tog nog iets vir hulle kan doen – al is dit net bietjie kos maak en hier en daar huis aan die kant te maak. Om hul liefde weer eerstehands te ervaar. Dit was wonderlik.

Maar toe die afskeid. Ons moes terugkom huis toe. Afskeid was nog nooit my sterk punt nie. Om in daardie laaste paar uur te maak asof niks gebeur het of gaan gebeur nie…. om nie my ware gevoelens te probeer wys nie, maar diep binne in my vas te hou…. dis geen maklike taak nie. Ja, ons gebruik die geykte “totsiens”, maar vir elkeen wat die woordjie gebruik beteken dit iets anders. Die hartseer groei later so vas aan jou dat jy dit moeilik verwerk.

Ons dankbaarheid aan julle wat dit vir ons moontlik gemaak het loop oor. Hoe kan ‘n mens dankie sê vir so ‘n groot voorreg. En dankbaarheid teenoor ons Hemelse Vader wat ons veilig bewaar het, en veilig terug gebring het huistoe. Ons dankbaarheid is ook groot dat niks of niemand ons huis en besittings geskaad het gedurende die 3 maande nie. Die blydskap groot om weer vir Rohan en Eldré te sien, en die familie en vriende wat naby is.

Die laaste 4 maande was gekenmerk deur verskillende dinge.

Lekker uitstappies saam met Rohan en Eldré met die Fortuner. Kuiertjies saam met hulle en dierbare vriende en familie wat vir ons baie beteken. Siektes en klagtes en… die swart hond. Fred wat weer skielik in die hospitaal beland het en nog stents moes kry. Onsekerheid oor sy gesondheid.

Kersfees het gekom en gegaan… dankbaar om dit weereens saam met Rohan,Eldré en Linda te kon deurbring, en nou staan ons voor ‘n splinternuwe uitdaging. ‘n Wonderlike nuwe jaar. Volgens alle voorspellings gaan 2009 nie ‘n maklike jaar wees nie. Maar as mens jou aan voorspellings moet steur, gaan jy nie gelukkig bly lewe nie.

Nuwejaars voornemens is nie deel van my samestelling nie. Want elke dag moet eintlik ‘n nuwejaarsdag wees.

Ek glo dat ‘n mens net 2 keuses het: of jy gaan die nuwe jaar binne mét geloof in die Here, of daarsonder. As ek met geloof die nuwe jaar tegemoet gaan, hoef ek my nie daaroor te bekommer nie. Dan besluit ek om elke dag te lééf, want dit is wat ek het. Aan gister kan ek niks verander nie, en van môre is ek nie seker nie. Daarom moet ek elke dag neem en die beste daarvan maak. Om gelukkig te wees in jouself is wat belangrik is. Ralph Waldo Emerson het gesê: What lies behind us, and what lies before us, are tiny matters compared to what lies within us”

Dis egter die toedien van hierdie medisyne, wat so maklik in woorde uitgedruk word, wat nie altyd maklik gesluk word nie. Dis wanneer jy skielik jou glas half leeg vind, dat dinge begin verkeerd loop. Dan moet jy kan droom, want…..

“If you have a dream…
don’t wait for some distant day to come.
It may be to late before you’ve even begun.
Not everyone will agree with all you decide -
Be true to yourself first and foremost.
The only important thing in life is what you do with the time you spend here on earth.
Don’t be afraid to follow your desires,
they are not silly nor selfish.
Take the time to do what makes you feel alive.
Leave your fears and regrets in the past,
for this is where they belong.
Don’t cloud today with things that can’t be undone.
You have no more control over yesterday or tomorrow
than you do the raging of your passions.
Do not quiet your dreams nor quench your desire.
For if you do, your journey is ended.
You have only today to begin anew and follow your dreams.
For in the end all we have are our memories.
When the twilight comes to us,
let there be no excuses, no explanations, no regrets!”
~anonymous~

Ons besoek aan Interlaken is nog nie volledig vertel nie…..

Donderdag : 13 Augustus 2008:

Marli en Walter roer vroeg, want hulle gaan mos vandag berg klim by Muerren.  Hulle moet al teen 08:30 daar wees…. en dit beteken hulle moet al teen 06:00 vertrek.  Ek en Fred het daarna stadig begin opstaan – ons het geen definitiewe planne vir die dag nie.  Gaan net in die dorp rondloop en shop aan persentjies om saam terug te neem huis toe.  Lekker Switserse sjokolade ens.

In die middel van Interlaken Wes is daar ‘n groot “platse” – groen grasperke en baie blomme.  Terwyl ons daar ‘n oomblik vertoef, sien ons hoe ‘n klompie paracliders die een na die ander neerstryk op die gras.  Diep in my hart was die begeerte altyd daar om dit eendag te doen – maar dit is so diep weggebere, dat toe dit skielik te voorskyn kom, ek my boeglam skrik…..  Maar ek het dan hoogtevrees…. hoe verstaan ek myself dan nou?  En net daar se ek vir Fred dat ek dit wil gaan doen voor hierdie dag om is.

Ons ondersoek die moontlikheid by die kiosk waar die kaartjies verkoop word, maar ek besluit toe dis te duur.  Hoe sterker die moontlikheid geword het, hoe groter het my vrees geword.  So ek was bly om ‘n verskoning te he!

So loop ons heerlik rond in die dorp.  Daar is so baie om te sien en te beleef!

Teen 14:00 is ons op pad huis toe toe Marli bel.  Hulle is tuis en wag vir ons aangesien ons die sleutel het en hulle nie kan in die huis inkom nie.  Hulle kan nie uitgepraat raak oor hulle ondervinding nie.  Om haar eie woorde te gebruik, haal ek die stuk wat sy daaroor geskryf het hier aan:

“For a while now I have been feeling this need to go rock climbing again.  I used to love doing it, many years ago and I have always thought that it is the most exchilirating form of exercise there is… So, with this itch in me, and the knowledge that we were going to the Alps, the dream started to build that I wanted to lay my hands on the rocks of the Alps.  I could not imagine a more perpect place in which to relive this old pleasure.

The first day after arriving in Switzerland, we headed up to Muerren, a town with arguably may have the best view of a mountain in the World.  With this thought in the back of my head, I was happy to immediately see an advertisement for ‘Klettersteig’.  I knew that ‘klettern’ means to climb, and I thought that ‘steig’ means to go up, so I figured that this is what I wanted to do.

Since I haven’t done any real climbing in about 8 years, I figured that I needed a guide.  Also, the benefit of having a guide is that they bring all the necessary equipment with them.

We immediately reserved a spot for early Thursday morning to go on our first ever ‘klettersteig’ in the Swiss Alps.  I think we did not fully understand exactly what a ‘klettersteig’ meant, but knew that we would be able to do whatever it turns out to be.

What was important to me, was to climb this most beautiful mountain.  I wanted to feel my body move in harmony with this majestic rock, to become tired, to feel the sweat on my body, to breath the air of this ultra clean environment.  I wanted to experience this beauty with all my senses…. not only with my eyes, but with my skin, my hands, to breathe it, to be part of it…

There is nowhere in the world that is more inspiring than the Alps in Switzerland.  The enormity of the beauty leaves me overwhelmed.  I find that I have to come back again and again to see it, to become part of it…

And then the day arrives, and we arrive in Muerren for the start of our Klettersteig.  As it turns out, a Klettersteig means that it is a bit like a hike through the mountains, but with the assistance of metal ropes and in certain places, also ladders.

It was a bit strange for me, because it was so much easier than doing proper rock climbing… when I climbed on the ladder, it felt like I was cheating, since it should be much harder….

I will send pictures later, and also talk a bit more about the climb, but for now all I wish to say is that it was an interesting experience… As a rock climbing experience, it was not very difficult.  There was a distinct absense of the usual fear of death I have when climbing…!

Before I started the climb, I wondered if I would still have such ‘Angst’… Would I still be as petrified as I used to be when climbing?  I thought that it may have changed, since in the past few years I have experiences so many scary and new things…

And then there was no fear.  We did the whole climb, including some truly impressive rope bridge crossing… and not once did I feel any fear…

I think I have lost my fear of heights completely… Something about my life has made me see things in perspective.  I have realized that when the illusion of safety is there, then one can easily lose all fear… It is just a pity that one cannot always tell what is an illusion and what is real.”

Dit het Fred nie lank geneem voor hy alles uitgeblaker het nie, en toe Marli en Walter eers hoor van die paracliding was daar geen einde nie.  Al die tyd het ek vir myself gese dat ek dit moet doen terwyl die geleentheid hom voordoen, en gaan ek nie jammer wees dat ek dit dalk nie gedoen het nie.  Ja, die vrees vir die onbekende was daar, maar ook die wete dat ek tog nie alleen gaan sweef nie.

Na ‘n vinnige middagete vat ons weer die pad dorp toe.  Dit was in elk geval seker omtrent 500 meter van ons huis af na waar die beginpunt en bymekaarkomplek was.  Ek wou nog uitstel na more, maar toe die meisie vir ons se dat sy nog ‘n plek oophet vir 16:30 (oor bietjie meer as ‘n uur) was die koeel deur die kerk!  Ons betaal die kaartjie, en toe begin die groot wag.

Skielik het ek net rustig geword toe ek besef dat die kaartjie nou gekoop is, en daar geen terugdraai kans meer is nie.  En toe kon ek nie wag nie!

By die beginpunt aangekom het ons almal eers spesiale skoene gekry om aan te trek en toe is ons met ‘n bussie teen die berg uit na waar ons sou begin vlieg.  In die bussie het die instrukteurs, wie ons dadelik op ons gemak gestel het met hul grappies, ons aan mekaar voorgestel en ‘n oorsig gegee oor waaroor dit alles gaan.

En so begin een van die groot hoogtepunte van ons vakansie.  Bo aangekom het die instrukteurs die toerusting begin regkry en is ons verder touwys gemaak oor wat van ons verwag word, en wat ons kan verwag.  Dit was vir my ‘n groot deurbraak oor myself dat ek, vandat die besluit geneem is, geen vrees ervaar het nie.  Dit was asof iets of iemand binne in my oorgeneem het, en al my vrees net verdwyn het.  Die adrenalien het woes geklop, maar geen vlinders op die maag nie.

Ons opdrag was om saam met die instrukteur te hardloop en nie op te hou voordat ons in die lug was nie.  Ek het nogal gewonder hoe doen ‘n mens dit, maar dit het so natuurlik gekom.  Na ‘n fotosessie saam met die instrukteur met sy kamera wat saam is om alles vas te le op fotos, het hy my gehelp om vasgegordel te kom en reg te maak vir die “van die berg af hardloop”.  Wat ‘n ondervinding!!  Ek kan nie eers naastenby vertel hoe ek dit ervaar het nie – is nie naastenby genoeg van ‘n skrywer om die ervaring in woorde uit te druk nie.

Voor ek mooi besef wat aangaan toe sweef ons….. en die woorde “discover why birds sing” word ‘n werklikheid.  Hulle sing omdat hul so vry is… om te kan vlieg hoog bo die berge en riviere (of in die geval die 2 mere) en net vry te wees…. hoe ongelooflik is dit nie!

SNEEU….. in November….. in Suid Afrika???  Nou het ek ALLES gesien!!!

Ek laat my sowaar oortuig om saam te gaan op die 4×4 roete in die Matroosberge.  Ek en Fred is vroeg aan die roer en net voor 8 stop ons by Rohan en Eldre se huis.  Die Fortuner staan reeds en idle….  Eldre ry nie vandag saam nie.  Dis net ons 3 en dan ontmoet ons vir Erhardt, Ehrica en Eberhardt in Ceres.

Ook maar goed dat ek nie vroegoggend al reeds geweet het wat op my wag nie.  Ek wonder of ek wel sou gegaan het…. maar nou dat ek dit wel beleef het, is ek baie bly dat ek wel deel was van hierdie dag.

Op die plaas, Erfdeel, waar die roete gelee is, aangekom word die wind uit die wiele gelaat, en vertel almal wat daar rondstaan hoe straf die roete is.  Die Kaap het mos verlede week onder erge storms deurgeloop, en so ook die Matroosberge.  Rohan en Erhardt besluit om te ry… ons is dan nou hier… en indien die pad regtig so onbegaanbaar is, sal hulle ‘n besluit neem om aan te gaan of om te draai.  So gese, so gedoen.

Sommer nog hier aan die onderent van die berg is daar al dongas in die pad:

As alles goed gaan wil ons graag ry tot op die top van die berg… die hoogste piek is 2249m – dis ook die hoogste piek in die Boland.  Die pad is egter maar sleg…. en ek het gou-gou geleer om maar liewer nie na die pad te kyk nie, en het kort-kort ‘n skietgebedjie opgestuur.  Terwyl Rohan en Erhardt die stryd met die klippe en dongas aanse, en ek my afsny van die pad, geniet ek die natuur en die berge – en ek neem fotos.

Die diep sloot waar eens pad was.

Die diep sloot waar eens pad was.

Onderlangs is daar baie proteas, maar hoe ho-er ons opgaan hoe minder plantegroei is daar, tot daar later net klip is.  Die sand wat tussen die klippe was wat die pad gevorm het, moes seker als weggespoel het, want daar is orals net rotse en klippe.  Ek moet regtig vir Rohan en Erhardt geluk wens met hul hantering van die voertuie.  Hulle was voorwaar fantasties.  Ja, die Fortuner sowel as die Jeep, het met krappe en duike van hierdie berg afgekom.  Ek is glad nie ‘n 4×4 entoesias of kenner nie, maar hierdie trippie het my oe laat oopgaan.  En dan moet ek erken dat ek nie sou gegaan het as ek vooraf geweet het nie.

Die Matroosberge en Ceres is mos bekend vir sneeu in die winter, en elke jaar stroom die mense daarheen om te gaan sneeu kyk, of te gaan ski.  As ek egter so na die hange van hierdie berg kyk, en ek visualiseer die sneeu daarop en die mense wat daar ski, dan trek my maag op ‘n knop en weet ek dat dit nie iets is wat ek sal doen nie.  En dan moet die mense wat wil ski, nog teen hierdie berg op LOOP! want dan is die pad glad nie begaanbaar nie.  Nee dankie.  Ek dink dis great dat daar mense is wat dit wil en kan doen, maar dis definitief nie vir my nie.

Ons het op ‘n paar plekke gestop om die natuur te bewonder, en die afgronde te probeer afneem, en voortgegaan met klim tussen die klippe op pad boontoe.  Net voor die heel laaste stukkie na die top, het ons weereens gestop en is daar kajuitraad gehou.  Ons moes ook wag vir ‘n voertuig wat op pad terug is van heelbo af.  Hulle vertel dat die pad boontoe maar sleg is, maar dat die uitsig alles die moeite werd maak.

Ons sien plek-plek tussen die rotse die wit kolle.  Aanvanklik het ons gewonder daaroor want dit lyk behoorlik soos die gletsers wat ons in die Alpe gesien.  Ja, sowaar, dit is sneeu!  Ons kon dit nie glo nie.  Ons weet die berge kry elke jaar sneeu, maar dis November maand!!  Later sou ons hoor dat dit so onlangs as September daar gesneeu het (ons winter het mos lank aangehou hierdie jaar), en dat daar nog meer en dikker sneeu gele het voor verlede week se storms, maar het die baie water van dit weggespoel.

Uiteindelik was ons bo, en kon ons by so ‘n lekker groot hoop sneeu ons worsies braai.  Daar was ‘n geniepsige windjie, maar dit was eintlik glad nie koud nie.  Die kinders het heerlik gespeel, en selfs Rohan het gaan voel presies hoe koud die sneeu is.

Rohan in die sneeu

Rohan in die sneeu

Ehrica en Eberhardt was later sopnat, maar van ophou is daar nie sprake nie.  Hulle 2 geniet die uitstappie…. en mis nie ‘n geleentheid om saam met Pa Erhardt die berge en duine aan te durf nie.

Toe het die terugtog begin.  Ons magies was vol en al die opwinding en spanning het sy tol begin eis.  Ons was almal lekker moeg.  Ek kan nie dink hoe moet so ‘n trippie die bestuurder uitput nie.  Op ‘n pad soos wat ons vandag ry, kan hy nie vir ‘n sekonde sy aandag van die pad af laat gaan nie.  Hier tel die kombinasie van ‘n goeie bestuurder en goeie motor al die punte.  Die een sal nie sonder die ander dit kan doen nie.

So 3 uur later was ons terug by basis en moes die wiele weer opgeblaas word.  Op Ceres koop ons koffie net voordat ons die pad huis toe vat.

Hierdie dag was hectic!  Dit was egter ‘n groot ondervinding.  Ek sal die angswekkende pad probeer vergeet, maar die natuurskoon nooit.  Dis wonderlik om so hoog bo die res van die wereld te wees, en alles so van bo af te kan besigtig – regtig ‘n bird’s eyeview.  Die gevoel van vryheid wat ek ervaar het daar hoog bo, kan ek nie in woorde weergee nie.

Die berge bly die beste!!!

Alhoewel ons alreeds geruime tyd terug is op eie bodem, het ek nog geensins vergeet van ons vakansie in Europa nie.  Interlaken en die omgewing het net so ‘n indruk op my gemaak, en as ek die geringste kans kry sal ek weer daarheen wil gaan.  Die berge en die dorpies is prentjiemooi in my gedagtes weggebere.

Ons laaste twee dae in Interlaken was ongelooflik, met hoogtepunte besaai.  Maar laat ek vertel:

Woensdag 12 Augustus 2008:

Vandag gaan ons Zermatt toe.  Dis die moeite werd om bietjie op hul website te gaan rondtoer.  Zermatt le aan die voet van die majestieuse Matterhorn :

Matterhorn-weerkaatsing

Matterhorn-weerkaatsing

Maar nou loop ek die storie vooruit.

Ons neem die roete oor die Grimsel Pass .  Volgens Christine se ma (Marli en Walter se vriendin), is dit haar “Lieblingsstraße”.  ‘n Pad wat ons 2165m sal laat klim.  Ek kan nie eers begin om te vertel hoe dit lyk nie – hoe die pad kronkel deur die berg nie – hoe mooi dit is nie – dis iets wat ‘n mens self moet beleef om dit te kan waardeer.  Jy doen eintlik die omgewing ‘n onreg aan om dit te probeer verduidelik.  By Oberwald stop ons vir koffie.  Hier het ons reeds 1377m geklim. By Täsch (1499 m bo seespieel) los ons die motor.  Ons klim op ‘n shuttle wat ons Zermatt toe sal neem – die Matterhorn Gotthard Bahn.  Dit laai ons af in die middel van die dorpie bo op die berg.  Kyk hoe kronkel hy teen die berg:

Matterhorn-Gotthard-Bahn

Matterhorn-Gotthard-Bahn

Zermatt is natuurlik ook ‘n motorlose dorpie.  ‘n Pragtige kleurvolle plekkie met weereens baie toeriste, blomme, oulike klein winkeltjies en natuurlik die Matterhorn.  As mens tussen die huise op straatvlak deur kyk, sien jy hoe die huise agtertoe trapsgewys teen die berg uitklouter.  En die trappe!!  Van die geboue is eeue oud!  Hier is koetse en perdekarre in die strate wat toeriste en besoekers heen en weer karwei met die mooiste perde.   Ons stap ver in die straatjies om alles te bekyk en niks te mis nie.  Die Matterhorn is oop en duidelik sigbaar teen die horison.  Ongelooflik mooi!  Dis ‘n pragtige dag en heerlik warm.  In teenstelling met die Jungfrau wat nog steeds in digte mis gehul is, blink die sneeu op die Matterhorn waar dit bokant die dorpie uit troon. 

Om te verhoed dat ons dieselfde pad terug neem en weer oor die pas gaan (wat ‘n paar uur se ry beteken) besluit ons om deur die Lötschbergtunnel te gaan.  By Coppenstein klim ons met motor en al op die tonnel-trein wat ons deur hierdie tonnel sal neem.  Die tonnel-trein bestaan uit ‘n klomp “flatcars”, so gebou dat ons ons motor teen ‘n oprit moet ry en duime van die buffer van die motor voor ons parkeer.  Wanneer die trein dan vertrek haal mens die motor uit rat uit en los die stuurwiel.  En so ry ons toe deur die Alpe, binne in ons motor, bo-op ‘n trein tussen ander motors, in die donkerte vir omtrent 15 minute tot by Kandersteg.  Van hier af is dit so +-45 minute en ons is terug in Interlaken.

Wat ‘n wonderlike dag was hierdie nie!  Nog een om by te voeg by al die ander!  ‘n Bord kos en ‘n bottel wyn later, en ons is doodmoeg binne in die bed.  More oggend is dit weer vroeg roer!!